Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

MPO press releases

27 Mei 2010

PERSVERKLARING UITGEREIK DEUR BERTUS DE JONGH,
HOOFUITVOERENDE BEAMPTE VAN DIE MELKPRODUSENTE-ORGANISASIE

Melkprodusente neem aksiestappe
Nagenoeg 150 melkprodusente van die Suidwes-Kaap, het Woensdag in Swellendam byeengekom nadat melkverwerker, Parmalat, verlede week aangekondig het dat hy melkprodusente in die streek, se produsenteprys met 30 sent per liter afwaarts aangepas het. Die prysverlaging tree op 1 Julie vanjaar amptelik in werking.

Die vergadering is bygewoon deur lede van Samelko asook ander produsente wat melk aan Parmalat lewer. Die vergadering het onder leiding van Thys Swart, Samelko se direkteur van Wyk 3, plaasgevind.

Die vergadering het kennis geneem van die feit dat die prysverlaging nie in lyn is met die res van die plaaslike bedryf nie, en dat dit ook strydig is met internasionale tendense. Teenwoordiges het die hoop uitgespreek dat hierdie prysverlaging ’n geïsoleerde geval is, en dat dit nie mede-produsente in ander dele van die land sal affekteer nie. Soortgelyke prysverlagings te midde van gesonde ekonomiese toestande, kan die melkbedryf skade berokken en dit kan jare neem om van die gevolge te herstel. In die lig van die ernstige droogtesituasie in die Suid- en Oos-Kaap, kan melkprodusente nie nou verdere terugslae soos prysverlagings absorbeer nie.

’n Stel aksiestappe is gedurende die vergadering geformuleer en daar is besluit dat die Melkprodusente-organisasie en Samelko verantwoordelikheid sal neem om toe te sien dat die stappe in werking gestel en deurgevoer word. Dié twee organisasies sal ook terugvoer aan die lede van die Swellendam-vergadering gee, oor vordering met die implementering van die aksiestappe.

Douw de Kock, voorsitter van Samelko, het na afloop van die vergadering gesê dit is bemoedigend dat produsente op eie stoom besluit het om tot aksie oor te gaan en stappe ter verbetering van hulle situasie te neem. Dèan Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (nasionaal), het op sy beurt gesê dit is verblydend dat melkprodusente soveel vertroue in hulle organisasie stel en dat hulle bereid is om die ekstra myl te loop om hulle bedryf te beskerm.

Vir nadere inligting, kontak Bertus de Jongh by 082 552 0594.

About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links

E-mail this article