Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

MPO press releases

24 November 2008

PERSVERKLARING UITGEREIK DEUR DèAN KLEYNHANS,
VOORSITTER VAN DIE MELKPRODUSENTE-ORGANISASIE WES-KAAP

Suiwelberaad bedink reddingsplan

Dèan Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO) Wes-Kaap, het die provinsiale regering geprys vir die leidende rol wat hy gespeel het by die suiwelberaad wat die afgelope week in Stellenbosch gehou is.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, Cobus Dowry, het die beraad geïnisieer en Jerome Topley, kantoorhoof van die ministerie van landbou, het die verrigtinge op 20 November gelei.

Sowat 100 mense het die beraad bygewoon waar die provinsiale regering, melkprodusente, die sekondêre melkbedryf, kleinhandel, insetverskaffers en finansiële instansies verteenwoordig was.

Die vergadering het die huidige krisis in die melkbedryf toegeskryf aan onder meer die internasionale ekonomiese insinking, ’n skerp daling in wêreldpryse vir melkpoeier, invoere van melkprodukte na Suid-Afrika te midde van ’n plaaslike ooraanbod van melk en ’n verbruikersmark wat stagneer het. Boonop het plaaslike melkkopers hul produsentepryse verlaag en met skerp stygende insetkoste is dit moeilik om winsgewend melk te produseer.

Tans is slegs sowat 3 500 melkboere nog aktief teenoor die sowat 15 400 melkprodusente wat in 1990 geboer het.

Die vergadering het kennis geneem dat sekere markomstandighede nie beheer kan word nie, maar dat talle plaaslike faktore tot groter voordele van melkprodusente – insluitende opkomende boere in die melkbedryf – moet verander.

Oplossings vir hierdie beheerbare aspekte is voorgestel, sodat plaaslike produsente beter kan meeding met die internasionale mark waar melkprodusente staatsubsidies geniet en winsgewend boer, ten spyte van ’n laer produktiwiteit in vergelyking met hul Suid-Afrikaanse eweknieë.

Die primêre bedryf voel boonop dat dit onregverdig is dat produsentepryse verlaag word terwyl die verbruiker meer betaal. Verteenwoordigers van die kleinhandel het ook die beraad bygewoon, maar het nie amptelik gereageer of deelgeneem aan die gesprekke nie.

Aksies wat voorgestel is, sluit ’n deeglik beplande uitvoerskema in wat dit vir Suid-Afrikaanse produsente en verwerkers makliker sal maak om suiwelprodukte uit te voer. Die ontginning van sulke uitvoermarkte en die uitbreiding van bestaande uitvoerkontrakte is ook bespreek.

Die vergadering het sy steun aan Agri Inspec, ’n filiaal van die MPO, toegesê en aanbeveel dat hy in sy taak versterk word om invoere te monitor.

Die ontwikkeling van die plaaslike verbruikersmark is as prioriteit bestempel. Daar word dringend gekyk na die lewensvatbaarheid van ’n skolemelkskema in die Wes-Kaap en later ook die res van die land. Verbruikersopvoeding deur Melk SA se generiese reklame-veldtog moet deur die hele bedryf gesteun word om die gewenste uitwerking te hê.

Nog ’n aanbeveling deur die vergadering is dat die vlak van vertroue tussen die verskillende rolspelers in die suiwelwaardeketting drasties moet verbeter. Minister Dowry gaan versoek word om ’n bemiddelingsrol te speel in hierdie verband.

Volgens Kleynhans besef die vergadering dat sommige van die voorgestelde aksies nie ’n onmiddellike effek sal hê nie, maar dat dit wel die situasie op die lang termyn kan beredder. “Produsente moet soveel moontlik doen om hulself te verskans teen die huidige ekonomiese onstuimighede. Melkproduksie is tans in ’n seisoenale hoë-produksie fase en verligting word moontlik eers vroeg in die tweede kwartaal van volgende jaar verwag,” sê Kleynhans.

Vir nadere inligting, kontak Dèan Kleynhans by 082 894 0413 of per e-pos by elimor@brd.dorea.co.

Einde

About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links

E-mail this article