Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

MPO press releases

24 Julie 2007

PERSVRYSTELLING UITGEREIK DEUR ETIENNE TERRE’BLANCHE, BESTURENDE DIREKTEUR VAN DIE MELKPRODUSENTE-ORGANISASIE

Verdere prysverhogings vir melk verwag
Die verwagting onder melkprodusente is ‘n verdere 30c tot 80c méér per liter melk, sê Etienne Terre’Blanche, besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO).

Verlede week is berig dat een van die land se groot melkkopers sy produsenteprys met soveel as 80c per liter wil aanpas. Dié berig kon egter nog nie amptelik bevestig word nie.

“Daar is onsekerheid oor die betekenis van dié prysaanpassing en van watter basis die verhoging aangedui word. Dis ook nie duidelik of dit ‘n verhoging in die aanbodprys aan melkboere is en of dit die verbruiker is wat meer gaan betaal vir suiwelprodukte nie.”

Volgens Terre’Blanche is dit die verbruiker se reg is om te weet watter faktore die prys van melk beïnvloed en dat elkeen in die ketting, van boer tot kleinhandelaar, ‘n verantwoordelikheid het teenoor verbruikers. Boere se insetkostes het sedert die begin van die jaar met sowat 30% gestyg, terwyl die verbruikersprys met tussen 60% en 73% gestyg het. Die prys van voer alleen het in die afgelope jaar met 60% gestyg en word steeds duurder.

Boonop word grondbelasting nou deur sekere munisipaliteite gehef op plaasgrond en ook op melkerye. Melkerye word as vervaardigingsaanlegte gereken en word teen ‘n hoë koers belas. Om ewewig te herstel, behoort melkprodusente se vergoeding opwaarts aangepas te word van die huidige R2,45 tot R2,55 na ‘n prys van R3 en meer.

Volgens hom is dit belangrik dat elkeen se rol in ‘n vryemarkstelsel gerespekteer word.

“Elkeen het bestaansreg en ons moet besef dat die een nie sonder die ander kan klaarkom nie. Dit beteken ook dat die eerste skakel in dié ketting, naamlik die produsente, deur handelaars, aankopers en verwerkers met dieselfde professionele respek geag moet word as wat in ander handelsbedrywe die norm is.”

Die MPO glo dat melkprodusente vir langer as twee jaar onderbetaal is met ‘n aankoopprys wat aan die begin van 2005 met sowat 10% verlaag is en grootliks op daardie vlak gebly het. Dié lae prys het winsgewende boerdery bemoeilik en talle boere is gedwing om melkproduksie te staak.

Die eerste werklike redelike aanpassing in die aankoopprys is eers drie maande gelede geïmplementeer.

Vir nadere inligting, kontak Etienne Terre’Blanche by 012 843 5600 of 082 900 7676.

Einde

About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links

E-mail this article