Welcome to The Dairy Mail
MPO press releases
2 Julie 2007
PERSVERKLARING UITGEREIK DEUR ETIENNE TERRE’BLANCHE,
BESTURENDE DIREKTEUR VAN DIE MELKPRODUSENTE-ORGANISASIE
Einde van melktekort nog nie in sig nie
Verbruikers gaan vir nóg ‘n paar maande melktekorte ondervind. Volgens die besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO), Etienne Terre’Blanche, het die huidige tekort ontstaan weens ‘n laer aanbod van melk en ‘n groter vraag na melk en suiwelprodukte.
Hoewel produsente nou reeds 24% meer vir hulle melk kry as dié tyd verlede jaar, sal die prysverhoging nie ’n onmiddellike uitwerking op produksie hê nie. Hoewel daar tans stappe geneem word om produksie te verhoog, neem produksietoenames gewoonlik eers teen begin September ‘n aanvang. Die tekort aan ruvoer, veral in die somergraangebiede, sal egter die produksietoename beperk.
Die impak van die tekorte is groter in sekere streke van die land waar bekende produkname ooglopend afwesig is van winkelrakke. Die oorsaak hiervan is geografies van aard en het onder meer te doen met melkboere se verhouding met hulle kopers asook droogte wat in sekere dele van die land ondervind word.
Intussen het internasionale suiwelpryse sodanig gestyg dat invoere nie teen normale pryse moontlik is nie. Dit het die tekort vergroot.
Die afname in die aantal melkprodusente van 7 200 aan die begin van 1998 tot die huidige 3 800, het met ‘n verlies aan werksgeleenthede in die landbou gepaard gegaan. Na raming was daar 66 000 werkers op melkplase in 1998. Tans word die getal werkers op 38 000 beraam. Oor die afgelope tien jaar het 28 000 werksgeleenthede dus in die primêre sektor verlore gegaan.
Twee jaar gelede het melkverwerkers in navolging van mekaar, melkprodusentpryse van R2 per liter na R1,78 per liter verlaag. Kort hierna het die prys van mielies en ander grane skerp gestyg. Gevolglik het die winsgewendheid van melkproduksie drasties verlaag.
Melkprodusente kon nie teen die huidige koste aanhou produseer soos voorheen nie en baie produsente het die gunstige vleispryse gebruik om melkproduksie te staak. Gegewe die feit dat sowat 30 melkboere per maand die bedryf die afgelope drie jaar verlaat het, volg dit logies dat melkproduksie sou verlaag.
Die vraag na suiwelprodukte het egter steeds gegroei. Groter verbruikersinkomste in veral die laer inkomstegroepe, het tot ‘n skerp toename in die verbruik van suiwelprodukte gelei soos meer welvarende verbruikers van stysel na proteïenryke voedsel oorgeskakel het.
Vir nadere inligting, kontak Etienne Terre’Blanche by 012 843 5600 of 082 900 7676
Einde
About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links
E-mail this article