Welcome to The Dairy Mail
MPO press releases
22 Februarie 2007
PERSVERKLARING UITGEREIK NAMENS JOE HANEKOM,
BESTURENDE DIREKTEUR VAN AGRI INSPEC
Meadow ontvang erkenning vir gehalte
Meadow Voere het die eerste groep geword wie se fabrieke almal die Agri Inspec Integriteitsmerk ontvang het. Hierdie toekennings is op 21 Februarie by die Astral Foods-hoofkantoor in Pretoria aan die onderskeie streke oorhandig.
Volgens Joe Hanekom, besturende direkteur van Agri Inspec, het die gedagte van hierdie sertifiseringsmerk by hom opgekom tydens ‘n besoek aan die USA Integrity Certification Bureau, wat besighede sertifiseer ingevolge hulle integriteit en nakoming van wetgewing. “Ons almal weet dat daar nie in Suid-Afrika die nodige respek vir die nakoming van wetgewing is nie. Hierdie sertifisering is vir besighede bedoel wat nog ‘n hoë premie heg aan integriteit,” het Hanekom tydens die oorhandiging gesê. Dit sal ook uitgebrei word na ander Sadec-lande en die gedagte is ook om mettertyd internasionale akkreditasie te verkry.
Die eerste stap was om te kyk na die toepassing van die Veevoedselwet (Wet 36 van 1947). Agri Inspec het ‘n 50-sleutel protokol opgestel om te verseker dat veevoermaatskappye voldoen aan die Suid-Afrikaanse wetgewing.
Al Meadow Voere se fabrieke het binne twee besoeke aan die nodige standaarde voldoen, en die Port Elisabeth-fabriek het ook ‘n wisseltrofee ontvang vir die fabriek wat die beste presteer het met die aanbring van veranderinge om die nodige vlak te bereik.
Volgens Chris Schutte, besturende direkteur van Meadow Voere, is gehalte van uiterste belang wanneer mens werk met roumateriaal wat uiteindelik kos op die verbruiker se tafel sit. Dit is dus net vanselfsprekend dat kwaliteitstelsels goed bestuur en beheer word. “Die uitdaging is nou om deurlopend aan die standaarde te voldoen,” meen Schutte.
Meadow Voere vier ook vanjaar hulle 65ste bestaansjaar. “ ’n Maatskappy word nie 65 jaar oud sonder om die regte ding op die regte manier te doen nie,” sê Schutte. Meadow Voere het tans agt fabrieke regoor Suid-Afrika wat tussen 115 000-120 000 ton voer per maand vervaardig. Hulle Randfonteinfabriek voldoen tans aan GMP, HACCP en ISO-standaarde en het pas die eerste veevoerfabriek geword wat voldoen aan die ISO 2200-standaarde.
Meadow Voere moedig ander veevoervervaardigers aan om deur die Vereniging van Veevoervervaardigers (Afma) aansoek te doen om Agri Inspec se Integriteitsmerk te ontvang.
Vir nadere inligting, kontak Joe Hanekom by 012 843 5600.
Einde
About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links
E-mail this article