Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

MPO press releases

20 Februarie 2007

PERSVERKLARING UITGEREIK NAMENS BENNIE JONKER, VOORSITTER
VAN DIE PRODUSENTE-AKSIEKOMITEE (PAKOM)

Pakom oor melkpryse

Clover het verlede week ‘n aantal vergaderings gehou om hulle strategieë en prysbesluite aan produsente te verduidelik. Daarvolgens het dit geblyk dat Clover besluit het om meer mededingend in die mark te wees.

Die Clover-model wat landwye en breë verspreiding van hoë gehalte suiwelprodukte met goed geadverteerde en sterk handelsmerke insluit, het meegebring dat Clover se pryse normaalweg heelwat hoër as dié van die opposisie was. Daar is in die afgelope tyd besluit om kostes te sny en pryspremies te verlaag.

Pakom en ander produsente op die vergaderings, se standpunt was dat produsente nie kan bekostig om hierdie strategie te finansier nie. Koste van veevoerkomponente het die afgelope agt maande tussen 30 en 70% gestyg, wat ekstra kostes van ongeveer 30 sent/liter meebring. Daarby het ander kostes ook sterk gestyg. Produsentepryse, daarenteen, is twee jaar gelede met 22 sent/liter verlaag en is tans nog laer as twee jaar gelede.

Clover steun in hierdie verband op gegewens wat in grafiekvorm aangebied is, wat aandui dat pryse die afgelope tyd op die inflasielyn beweeg en twee jaar gelede te hoog was. By een van die vergaderings is daar egter daarop gewys dat die grafiek in beginsel verkeerd is en dat pryse onder die verbruikersprysindeks beweeg. Die kostestygings van melkproduksie beweeg in elk geval tans vêr bo die verbruikersprysindeks.

Intussen kan Clover skynbaar nie naastenby in sy markvraag voorsien nie en het wêreldmarkpryse die afgelope maande die hoogte in geskiet. Saam met die dalende randwaarde, bring dit mee dat invoerpariteit nou 50-70 sent/liter hoër is as twee jaar gelede, met plaaslike melkpryse nou minstens 30% laer as invoerpariteit.

Ander melkkopers neig om Clover na te doen en betaal meestal ook swak pryse. Dit wil sê, die hele bedryf beweeg op ‘n vêr te lae vlak. Nie net Clover is skuldig nie. Terwyl Clover voorheen die leiding geneem het, wag hulle nou vir die res van die bedryf om te beweeg. Dit is ‘n skaakmat-situasie en vir hierdie byna kinderagtige spel, moet produsente betaal en is talle verplig om die bedryf te verlaat. Vraag en aanbod se invloed op prys word dus vir alle praktiese doeleindes uitgeskakel, omdat produsente bykans geen bedingingsmag het nie.

Pakom voel dat breë optrede nodig is om alle kopers te dwing om die vryemark sy gang te laat gaan. Die huidige strategieë kan die bedryf en uiteindelik verbruikers ernstig benadeel. Dit kan veral die middelslag en kleiner produsente uit die mark dwing, en maak dit vir kleiner beginnerboere byna onmoontlik om tot die mark toe te tree.

Vir nadere inligting, kontak Bennie Jonker by 058 813 4129 of 082 422 4083.


Einde

About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links

E-mail this article