Welcome to The Dairy Mail
MPO press releases
24 Januarie 2007
PERSVERKLARING UITGEREIK DEUR BERTUS DE JONGH, BESTURENDE DIREKTEUR VAN DIE MELKPRODUSENTE-ORGANISASIE
Verbruikers gaan meer opdok vir melk en suiwelprodukte
“Melktekorte word vanjaar verwag en verbruikers moet hulle gereed maak om heelwat meer vir melk en suiwelprodukte te betaal,” het Bertus de Jongh, besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO) gesê.
“Die tekorte is toe te skryf aan sowel plaaslike as internasionale toestande,” het De Jongh gesê. “Plaaslike tekorte word hoofsaaklik meegebring deur lae produsentepryse die afgelope twee jaar. Die huidige lae produsentepryse van melk dwing talle melkboere om die bedryf te verlaat – volgens die MPO se syfers tot soveel as 30 boere per maand.” Dit veroorsaak dat al hoe minder melk maandeliks geproduseer word.
“Die hoër vleispryse dra natuurlik ook by tot die tekort,” het De Jongh gesê. “Dit is tans meer winsgewend om melkbeeste uit te slag as om hulle te melk. Sulke beeste kan nie oornag vervang word nie en selfs al word die vertroue in die melkbedryf met prysverhogings vir die produsente herstel, sal dit maande of selfs jare neem om melkkuddes weer op te bou.”
In teenstelling met lae produsentepryse, bly insetkostes styg. Voer is een van ‘n melkboer se grootste uitgawes en voerprysverhogings en die stygende mielieprys, plaas bykomende druk op melkboere.
“Die onvriendelike politieke omgewing waarin landbou in die algemeen hom tans bevind, en die gepaardgaande negatiewe publisiteit, is ook ‘n groot bron van kommer vir die MPO. Dit skep nie ‘n gunstige omgewing vir beleggers en nuwe toetreders nie.”
Volgens De Jongh is daar ook internasionale tekorte aan suiwelprodukte. Die droogte in Australië – die grootste in menseheugenis – tesame met normale sikliese ekonomiese toestande, dra verder tot die tekorte by. Internasionale suiwelpryse het reeds begin styg.
“Stygende internasionale pryse en die swakker rand maak dit te duur om suiwelprodukte in te voer ten einde melktekorte aan te vul,” het De Jongh gewaarsku. “Ter wille van die Suid-Afrikaanse verbruiker sou dit sin maak om die plaaslike melkbedryf te beskerm en te ondersteun, en sodoende te verseker dat melk bekostigbaar bly.”
Vir nadere inligting, kontak Bertus de Jongh by 012 843 5600 of 082 552 0594.
Einde
About the MPO | Calendar | Statistics | Press releases | Contact us | Board of Directors | Links
E-mail this article