Welcome to The Dairy Mail
Voedsaam en gesond
maar toetse tel wel - September 2010
deur Liza Burger
Benewens bloed is melk sekerlik een van die mees komplekse natuurlike vloeistowwe. Hierdie komplekse voedselbron is ook veelsydig in sy gebruik en kan relatief maklik tot ’n verskeidenheid produkte verwerk word.
Melk kan verwerk word tot ’n groot verskeidenheid suiwelprodukte danksy die manier waarop melk reageer wanneer ’n sekere kombinasie van bakterieë, hitte, verwerking en ’n paar basiese bestanddele bygevoeg word.
Melk se Achilleshiel is egter sy bederfbaarheid en vermoë om ’n teelaarde te skep – of ten minste as gasheer te dien – vir patogene. Meer onlangs is ook bewys dat melk besmet kan word met anorganiese middels soos melamien. Die dood van talle babas en honderde ander siektegevalle in hoofsaaklik China, het die noodsaak van verbruikersveiligheid en veilige voedselverwerking weer na vore gebring.
Vir die melkbedryf is die gesondheidsgevaar van besmette melk (hetsy organies of anorganies), ’n saak wat elkeen in die waardeketting as prioriteit moet beskou.
Benewens soönose is daar ook ’n groot getal patogene wat deur melk na mense oorgedra kan word. Was dit nie vir Louis Pasteur nie, sou die moderne melkmark potensieel groot gesondheidsrisiko’s inhou.
Pasteurisasie is egter nie die enigste en finale antwoord op die vraag na gehalte- en veilige melk nie, die melkprodusent is die eerste bewaker in die suiwelproduksieketting.
The Dairy Mail het met Jompie Burger van die Suiwelstandaardagentskap in Centurion gesels oor die boer se basiese verpligtinge rakende die produksie van gehaltemelk en ook waarvoor die melkverwerker melk toets voor, tydens en ná verpakking.
Produsent se plig
“Die melkprodusent moet eerstens ’n gesonde kudde melk,” sê Jompie.
Toetse wat jou kudde brusellose- en TB-vry verklaar moet deur die staatsveearts – of deur jou kuddeveearts met die toestemming van die staatsveearts – uitgereik word (toets vir tuberkulose elke twee jaar en elke jaar vir brusellose). Boere in die Wes-Kaap moet daarop let dat die provinsiale wetgewing kan verskil van die res van die land.
Dit is belangrik dat elke produsent homself ingelig hou oor die verskillende toetse, soos die gebruik van die melkringtoets teenoor bloedtoetse, om die voorkoms van brusellose vas te stel.
In die melkstal is die rol van higiëne nie net belangrik vir die verbruiker nie, maar ook vir die melkers en koeie. “Regulasie 1256 verwys na die regulasies waaraan die melkstal en die vervoer van melk moet voldoen. Dit is van kardinale belang dat elke melkprodusent aan die vereistes van hierdie regulasie gehoor gee,” sê Jompie.
Daar is ook al hoe meer druk op produsente om aan standaarde te voldoen vir kritiese kontrolepunte vir gevaarontleding (HACCP), veral as dit aan uitgesoekte kleinhandelaars via melkprosesseerders verskaf word. Die boer wat goeie landbou-, higiëne- en dieregesondheidspraktyke volg, behoort egter met min moeite aan die wetlike vereiste te voldoen.
Gesonde koeie, gesonde melk
Volgens Regulasie 1256 mag die melk van siek koeie nie vir menslike gebruik aangewend word nie. Dit sluit siektes soos mastitis in. Hierdie melk word ook nie in die melkstelsel opgeneem nie, maar apart uitgemelk of laaste gemelk sonder dat dit in die massatenk gestort word.
Siek koeie moet maklik geïdentifiseer word en indien net een uierkwart ontsteek is, moet dit aangedui word. Tipiese aanduidings is ’n stukkie gekleurde kleefband om die stert of spuitverf op die boud. ‘M 1’ sal byvoorbeeld aandui dat die eerste uierkwart met mastitis besmet is.
Hou streng boek van enige siekte, die toediening van voorkomende middels en inentings, enige behandelings en veral die toediening van antibiotika. Waar middels melkonttrekking meebring, moet daar streng gehou word by wanneer die koei se melk weer gebruik mag word.
“Elke boer het sy eie manier, maar die toediening van medisyne, voorkoms van siektes en veeartsbehandeling, moet gedokumenteer word,” sê Jompie.
Hy voeg by dat benewens sy diere, moet sy waterbronne ook gereeld getoets word, veral as onverklaarbare bakterietellings of herhaalde siektetoestande voorkom.
“Onthou, jy gebruik water om jou toerusting te was, jou diere drink dit en jy drink dit. Indien chloor in jou water gevoeg word, toets of dit binne perke is en of vlakke konstant bly. Indien flokulante gebruik moet word om troebel water te verhelder, moet jy onthou om tenks gereeld skoon te maak. Dit is ook belangrik om water vir E.coli te toets en seker te maak dat die uitslag van die toets nul is.”
Toetsprogram
Benewens daaglikse mastitistoetse op elke koei tydens elke melking (Regulasie 1256, Junie 1986, uit Wet 63 van 1977) is daar ander toetse wat die boer sal help om die gehalte van sy melk te monitor en moontlike higiëne- en bestuursprobleme in sy melkstal te identifiseer. Die meeste van hierdie toetse is vervat in Regulasie 1555 [as deel van artikel 15(1) van Wet 54 van 1972].
Hierdie toetse sluit in:
• Somatieseseltelling – maandelikse toetse is die aanbevole minimum frekwensie.
• Totale bakterietelling, koliforme en E.coli – weeklikse toetse is die aanbevole minimum frekwensie.
Sommige produsente doen reeds van hierdie toetse – sommige het die fasiliteite om dit self op die plaas te toets en sommige moderne melkerybestuurstelsels kan outomaties bv konduktiwiteitstoetse uitvoer. Uiteraard is daar ’n koste-implikasie, maar die gedetailleerde monitering van melk volgens bepaalde frekwensies maak presisieboerdery in die melkstal ’n werklikheid.
Vir plase waar sulke toetse nie moontlik is nie of waar die wegstuur van monsters ’n tydsame en duur proses is, is deelname aan die melkaantekeningeskema ’n moontlike antwoord. Die ontledings en resultate van toetse is ’n verdere hulpmiddel in die bestuursproses.
Die voorgeskrewe riglyne vir hierdie toetse dui aan dat beesmelk nie meer as 500 000 somatiese selle per milliliter melk mag bevat nie (750 000 vir bokmelk).
Die plaattelling dui die totale hoeveelheid lewensvatbare organismes aan en die bakteriologiese telling mag nie meer as
200 000 per milliliter melk wees nie. Hierdie toets dui slegs die hoeveelheid organismes aan. Ander toetse identifiseer die organismes.
Die toets vir koliforme organismes mag nie meer as 20 koliformende eenhede aandui nie. Hierdie is ’n indikatororganisme wat bakterieë en swak higiëne ontbloot. Soos in die geval van water moet die E-coli-telling in melk nul wees.
Melamien
Plaaslik is dit steeds relatief duur om vir die voorkoms van melamien te toets. Die vorige gevalle van melamien se voorkoms in melk is telkens teruggevolg na voer as oorsprong en boere word genoop om van elke besending voer of voerbymiddels ’n monster te neem en rekord te hou.
Melkverwerkers word genoodsaak om elk hul eie protokolle te onderhou vir melamientoetse, maar oor die algemeen word proefsteke gereeld uitgevoer.
Wêreldwyd is die ELISA-toets (ensiemgekoppelde immuun-absorpsietoets) een van die bekendste toetse vir melamien in enige iets van melk en melkpoeier tot hondekos. In die VSA is ses verskillende soorte ontledingsmetodes vir melamien deur die FDA goedgekeur.
Summary
Maintaining excellent milk quality starts with ensuring good herd health, employing hygienic milking practices and testing milk as prescribed. Milk is a complex product that easily harbours bacteria. By testing milk regularly, the farmer can help ensure that safe and nutritious dairy products reach the consumer.