Welcome to The Dairy Mail
Topmelkboer aangewys - September 2010
Net meer as 50 toekennings en spesiale toekennings is vanjaar by die Vrystaatse Meestersuiwelboer-toekenningseremonie gemaak waar Waterbron Jerseys van Cobus en Ronel Behrens van Ventersburg as algehele wenners uit die stryd getree het.
Die toekenningseremonie is in Junie in Bloemfontein aangebied vir melkprodusente wat deelneem aan die Melkdierprestasietoetsskema.
“Cobus en Ronel se entoesiasme maak dit lekker om hulle te besoek. Die jong diere van hierdie kudde is beslis iets vir die oog en die ouer diere presteer baie goed. Die gesondheidsbestuur van die kudde is uitstekend,” sê Rampie de Wet, verteenwoordiger van die Landbounavorsingsraad en organiseerder van die kompetisie.
Dit is die tweede keer dat Cobus as die Vrystaatse Meestersuiwelboer van die Jaar aangewys is. Die Behrense het vanjaar die tiende keer ’n goue toekenning as een van die tien toppresteerders in dié kompetisie ontvang.
In die tweede plek was die welbekende kudde van Johan en Tattie Schoeman, van Bothaville. “Dit is altyd ’n plesier om hierdie kudde te besoek. Die algemene bestuur en voorkoms van hierdie kudde is verstommend,” sê Rampie. Die kudde het ook die toekenning vir die kudde met die beste fenotipiese voorkoms ontvang.
Vir die eerste keer sedert die ontstaan van hierdie kompetisie in die Vrystaat, het ’n kommersiële kudde gekwalifiseer vir ’n goue toekenning én terplaatsebeoordeling.
Dié sogenaamde graadkudde van Dewetsdorp, Daspoort-Holstein-Friese van Hansie Swanepoel, het uiteindelik die derde plek verower.
“Dit is beslis ’n prestasie om op trots te wees,” sê De Wet. “Beide jong en ouer boere kan maar gaan kyk hoe hierdie kudde bestuur word. Die positiewe lewensuitkyk van Hansie en sy personeel is ’n voorbeeld vir almal van ons.”
Die kudde van Pam Gradwell van Bloemfontein het die toekenning ontvang vir die beste somatieseseltelling gemeet oor ’n jaar. Die toekenning vir die beste nuwe toetreder het gegaan aan die Jersey-kudde van Lindenberg Tomlinson van Bothaville.