Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Wêreldekonomie groei vinnig - September 2010

deur Koos Coetzee

Die internasionale en Suid-Afrikaanse ekonomie is terug in ’n groeifase.Hierdie groei is egter onderhewig aan groot onsekerhede. Dit lyk egter asof die verbruiker terug is in die winkels.

Internasionale ekonomiese tendense
Die wêreldekonomie het daarin geslaag om homself uit die diep resessie wat in 2008 begin het, te spandeer. Soos elke boer egter weet, is dit eintlik onmoontlik om jou uit jou moeilikheid te spandeer. Een of ander tyd moet die oorspandering reggestel word. Vir baie ontwikkelende lande het die regstelfase nou aangebreek. Verskeie ontwikkelde lande, nou ook bekend as die PIGS (Portugal, Ierland, Griekeland en Spanje), is tans in groot finansiële moeilikheid. Streng finansiële dissipline gaan nodig wees om hulle uit die skuldstrik te kry. Die groot onsekerheid in die wêreld­ekonomie tans is of die PIGS daarin gaan slaag om binne die geprojekteerde besteding te bly.

Ten spyte hiervan is die IMF steeds optimisties oor groeivooruitsigte vir 2010 en verder.In die pas gepubliseerde World Economic Outlook Update, projekteer die Internasionale Monetêre Fonds dat die globale ekonomie met 4,5% in 2010 en met 4,25% in 2011 gaan groei. In die eerste kwartaal van 2010 is groei van meer as 5% internasionaal gemeet. Sterk groei in Asië was die hoofdrywer, hoewel die verbetering in verbrui­kersvertroue en ’n matige verbetering in indiensneming ook ’n rol gespeel het en veroorsaak het dat vraag in ontwikkelde lande gestyg het.

Matige groei word vir ontwikkelde lande voorspel. Die verloop en verwagte verloop van ekonomiese groei vir ontwikkelde en ontwikkelende lande word in Figuur 1 aangedui. Die positiewe verwagtinge is getemper deur kommer oor die volhoubaarheid van fiskale maat­reëls, behoud van regerings se groeistimulerende beleid en toekomstige groeivooruitsigte.

In Mei het die kommer sterk na vore gekom veral as gevolg van kommer oor die vermoë van ontwikkelde lande soos Griekeland om reuse­staatskuld te hanteer. Dit het na die banksektor in Europa oorgespoel. Toenemende risikovermyding het tot ’n daling in batepryse in ontwikkelde lande gelei. Skerp bewegings is in valuta-, aandele- en kommoditeitsmarkte ondervind. Figuur 2 dui die beweging in enkele aandele-indekse vanaf 1Januarie 2010 aan.

Die finansiële turbulensie kan moontlik oorspoel na die ware ekonomie toe. Banke kan die aanbod van krediet verminder as gevolg van groter onbestendigheid en stygende finansie­ringskoste, veral in Europa. Swak verbruikers- en sakevertroue kan daartoe lei dat privaat beste­ding en belegging onderdruk word. Die laer risiko-aptyt mag daartoe lei dat kapitaalvloei aanvanklik daal, maar indien groeivooruitsigte sterk bly en publieke skuld daal, mag die vloei van kapitaal veral na ontwikkelende lande toeneem. Die IMF verwag nie dat die huidige Europese krisis groei­vooruitsigte veel gaan benadeel nie.

In die Euro-gebied mag die krisis lei tot ’n 0,25-persentasiepunt-daling in ekonomiese groei in 2011. Ekonomiese groei in die Euro-gebied vir 2010 is, ten spyte van die finansiële krisis en grootliks te danke aan die skerp groei in Asië, opwaarts aangepas van die 2,25% wat in April in die vooruitsig gestel is na 2,5%. In 2010 en 2011 word globale groei van 4,6% en 4,3% verwag.

Suid-Afrikaanse ekonomiese tendense
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is sedert die laaste kwartaal van 2009 weer in ’n positiewe groeifase. Die ekonomie groei met 4,6% in die eerste kwartaal van 2010, vergeleke met 3,2% in die laaste kwartaal van 2009. In 2009 het die ekonomie met 1,8% ingekrimp. Die groei in die eerste kwartaal van 2010 is sterk deur die groei in mynproduksie en tot ’n mindere mate in vervaardiging gedryf.

Konjunktuurgolfaanduiders soos die Reserwe-bank se leidende aanduider van ekonomiese aktiwiteit dui ook aan dat die ekonomie in ’n opswaaifase beweeg.

Die verbruiker het ’n paar moeilike jare beleef. Die besteebare inkomste per capita daal vanaf 2008 tot 2009 met 2,7%. Skuld as persentasie van verbruikers se besteebare inkoste styg tot 80,6% in 2008. Skuldvlakke daal marginaal daarna tot 78,4% in Januarie 2010.

Werkloosheid het in 2007 tot 2009 met 1,8%, 2,9% en 3,0% gestyg. Daar is aanduidings dat die koers van toename in werkloosheid in die laaste kwartaal van 2009 effens afgeneem het. Kommer heers egter oor die effek op veral die konstruksiebedryf sodra die laaste van die 2010-sokkerprojekte afgehandel is. Ons is tans in die loononderhandelingsperiode en dit lyk asof die meeste loonskikkings teen veel meer as die inflasiekoers gesluit word. Dit behoort die verbruiker se situasie verder te verbeter.

Kleinhandelverkope daal vanaf Februarie 2008 tot Januarie 2010. Sedertdien groei kleinhandel­verkope matig. Jaar-op-jaar-groei bereik 4,8% in Mei 2010. Kleinhandelverkope is gestimuleer deur die effense verbetering in skuldvlakke asook die daling in rentekoerse van vyf persentasiepunte. Eiendomspryse het ook effens gestyg en sal verdere verligting vir verbruikers bring. Inflasie is steeds op relatiewe lae vlakke en die sterk rand behoort die styging in ingevoerde inflasie vir die nabye toekoms in toom te hou.

E-mail this article