Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Slim strategieë vir ’n
droë voorseisoen - September 2010

deur Gerrit Bezuidenhout

Wanneer die droogte knyp, raak ’n mens maklik paniekerig. Dit is nie ’n goeie tyd op die plaas nie en moedeloosheid stap sommer so saam met die bankbestuurder by die voordeur in. Gelukkig kan ’n mens voortydig begin beplan om seker te maak dat die situasie reg bestuur word.

Droogte kan nie weggewens word nie en dit sal altyd deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse boerderylandskap. Wat egter waar is, is dat daar maniere bestaan om die uitwerking van droogte op jou boerdery te verminder en te bestuur. Na aanleiding van die droë voorseisoen wat deur veral die Suid-Kaapse provinsie beleef is, het The Dairy Mail by ’n kenner gaan kers opsteek oor die beste maniere om die droogte te troef.

Belangrikheid van droogtevoeding
Zeno Bester is ’n tegniese bestuurder en kenner in suiwelvoeding vir Voermol-voere. Wanneer dit kom by droogtevoeding en wanneer om dit toe te pas, sê sy is elke melkboer se situasie in hierdie geval uniek, maar droogtevoeding begin gewoonlik sodra die weiding of ruvoer nie meer as minstens 40% van die dier se droëmateriaalinname kan voorsien nie.

“Dit hang dan af van die soort en hoe­veelheid ruvoerbronne beskikbaar,” sê sy. “Het die boer slegs groen weiding of ook addisionele grashooi, lusernhooi of koringstrooi en kuilvoer beskikbaar? Met raaigrasweidings is die hoeveelheid beskikbare droëmateriaal gewoonlik beperk tydens die sogenaamde ‘dood­maakmaande’ van Augustus tot ­Oktober en dan moet die boer addisionele ruvoerbronne oorweeg. Tydens droogte is ­hierdie tydperk selfs langer.”

Om uit te skot of nie?
Hoewel dit mag lyk of uitskotting die enigste opsie is, is dit nie altyd die geval nie, sê Zeno. Sy sê dis belangrik dat boere alle produserende diere groepeer volgens stadium van laktasie en produksiepotensiaal, om te verseker dat diere so ekonomies moontlik gevoer word om vermorsing en verminderde produksie te voorkom.

“Droë koeie moet gegroepeer word in twee groepe: eerste 30 dae ná afdroging en laaste 30 tot 21 dae voor kalwing. Diere tydens die laaste 21 dae voor kalwing benodig ’n duurder, of hoëdigtheidsrantsoen om vir die laktasierantsoen aan te pas, teenoor droë koeie net ná afdroging.”

Dit gebeur dikwels dat die boer so besig is om sy produksiediere in stand te hou dat verse dikwels afgeskeep word tydens droogte­periodes. Zeno sê die boer moet egter in ­gedagte hou dat die verse die kudde van môre is. Indien hulle groei nou beperk word, sal die verse later kalf en hul eerste laktasie-opbrengs gaan ook nie na wense wees nie weens kompensatoriese groei.

“Verdeel dus jou verse in drie groepe: kalwers nul tot drie maande; verse drie tot ses maande; verse ses tot 12 maande en dragtige verse. Voer almal volgens behoeftes,” is haar raad.

Ook produksiediere moet gegroepeer word volgens hul produksiepotensiaal, stadium van laktasie en laktasiesyfer, terwyl hul produksie, groei en liggaamskondisie getrou gemonitor moet word om aanpassings in die voerprogram te maak waar nodig. Voer van die diere geskied dan baie meer ekonomies.

Voer om te oorleef
Een van die vele moeilike besluite in hierdie tyd is om slegs vir oorlewing te voer en te hoop dat die najaar beter sal wees. Zeno glo dit is ’n ekonomiese berekening wat elke melkboer moet doen, maar waarsku dat dit geen inkomste sal genereer nie. Haar raad is om liefs diere vroeër af te droog. “Maak egter seker dat hulle nie kondisie verloor tydens die droë tydperk nie.”

Sy sê verder melkkoeie kan meer ekonomies en doeltreffend liggaamskondisie optel tydens laktasie as wanneer hulle droog is. “Maak dus seker diere word afgedroog teen ’n liggaamskondisie van minstens drie punte,” beveel sy aan.

Kies jou aanvullingstrategie reg
Om jou diere in die beste moontlike kondisie te hou tydens ’n droogte is geen maklike taak nie. Soms is aanvullings nodig en om die strategie te vind om te bepaal watter aanvullings om te gebruik, is ’n taai kalant. “Die aanvullingstrategie sal afhang van die hoeveelheid weiding of ruvoer beskikbaar en ook die produksie­potensiaal van die kudde.

Gewoonlik voer melkboere tussen 6 en 10 kg suiwelkonsentraat addisioneel tot die weiding. Onthou dat produserende melkkoeie sowat 40% van hul droëmateriaalinname afkomstig van ruvoerbronne, soos grashooi of weiding benodig. Hoër produseerders ontvang dikwels so min as 36% tot 38% as gevolg van ’n hoëkonsentraat-komponent.

“Dit is belangrik om die balans tussen ­ruvoer en konsentraat konstant te handhaaf tydens droogtetoestande en addisionele ­ruvoer- of veselbronne te oorweeg. Koringstrooi is ’n gewilde bron van addisionele vesel of NDF, maar dit is ongelukkig net in die somermaande ’n opsie. Grashooi of gedroogde lusern kan ook gebruik word, maar die bronne is ook skaars en gewoonlik onbekostigbaar ­tydens droogtetoestande,” sê Zeno.

Sy verduidelik dat ’n produk met ’n bagasse-molassebasis met groot sukses gebruik kan word om die veselkomponent in die melkrantsoen aan te vul.

“’n Produk soos Voermol se Maximelk kan teen 2 kg/per kilogram per dag gevoer word en terselfdertyd vesel, proteïen, genoeg verbyvloeiprotein asook vitamiene en minerale verskaf. Die boer kan dus met minder skaars ruvoer wegkom. Molovite kan ook teen 1kgper koei gevoer word. Dit bevat ionofore en vervul dieselfde rol.”

Weidingsgebaseerde boere skakel dikwels tydens droogtetoestande of weidingskaarste oor na ’n gedeeltelik gemengde rantsoen (GMR). Dit bestaan gewoonlik uit kuilvoer, konsentraat en ruvoer (oftewel weiding) in baie beperkte hoeveelhede. Hierdie mengsel word hoofsaaklik aan diere gevoer in hoeveelhede van tussen 0 en 100 DIM. Diere later in laktasie word op die weiding aangehou met beperkte aanvullings en selfs vroeër afgedroog indien dit ekonomies regverdigbaar is.

“Ek beveel aan dat indien erge droogte ondervind word, die boer op sy vroeë- tot middellaktasiekoeie konsentreer, aangesien hulle die hoogste produksiepotensiaal het en dikwels nog in negatiewe energiebalans is. Metabolies is hierdie koeie dan ook baie meer doeltreffend.”

Zeno verduidelik lek word gebruik as deel van suiwelmeel (15% tot 20%) – afhangende van die gehalte van die ruvoer en weiding be­skikbaar – as produksielekke, onderhoudslekke vir droë diere, en ook as eenvoudige sout- of fosfaataanvullings. “Lek het die voordeel dat die boer sy eie mielies of kleingrane kan gebruik, indien beskikbaar en hy nie gedwing word om mielies as deel van die suiwelkonsentraat ten duurste aan te koop nie.

“Lek moet egter strategies aangevul word afhangende van die behoefte van die dier, die seisoen, en die stadium van produksie. Lek kan in proteïen, energie, vitamiene, minerale en ionofore voorsien. ­Afhangende van die beskikbaarheid van addisionele voerbronne op die plaas, kan die boer lek suksesvol in sy voerprogram insluit.”

Gelukkig is die boer nie alleen nie
Zeno beveel aan dat die boer sy veekundige raadpleeg om ’n behoorlike voervloei­beplanning saam te stel. “Neem ­faktore soos beskikbaarheid van grondstowwe, aantal diere, produksiepotensiaal, kommo­diteitspryse en die melkprys in ag om die regte besluite te neem wat betref uitskotting en afdroging. Moenie verse en droë diere ­afskeep nie. Dit sal die invloed van die droogte vererger en raak die melkkudde selfs nog ná die droogte,” is haar raad.

Summary
A drought is the one economical factor no farmer can control. However, good management in ensuring that enough feed is stored for those dry times is essential to survive.

E-mail this article