Welcome to The Dairy Mail
Op die spoor van die groot vyf - September 2010
deur Gerrit Bezuidenhout
Elke boer weet dat aanvullings noodsaaklik is om sy diere in topkondisie te hou. Daar is egter spoorelemente wat meer voordeel inhou as ander, maar waar kry ’n mens dit in die hande? Dr Willie Smith, ’n kenner op die gebied van veevoere in Suid-Afrika, gee meer inligting oor die suksesvolle gebruik van spoorelemente in suiwelkuddes.
Die groot vyf
Volgens Smith is die groot vyf van spoorelemente in aanvullings die wat die noodsaaklikste take verrig in verband met reproduksie en weerstand teen siektes en stresverwante kwale. Hierdie spoorelemente is:
1) sink
2) mangaan
3) seleen
4) koper, en
5) chroom
Hoewel spoorelemente soos yster, jodium en kobalt ook genoem word, sê Smith, speel bogenoemde vyf die grootste rol in kuddegesondheid.
Die rol van spoorelemente
“’n Mens sou boeke kon skryf oor die funksie en doeltreffendheid van spoorelemente,” sê Smith, maar hy beklemtoon dat, in die geval, al vyf spoorelemente baie belangrik is vir reproduksie. “Mangaan is byvoorbeeld baie belangrik vir estrogeen-produksie, ovulasie, ’n gesonde eisel en bevrugting, wat doeltreffend moet plaasvind. Daarmee saam speel al vier die ander spoorelemente ook ’n rol by verskillende dele van die reproduksieproses en is hulle in daardie opsig volgens my die belangrikste.” Spoorelemente dien ook as brandstof vir sekere prosesse in ensiem- en hormoonstelsels. Dit is veral belangrik by natuurlike weerstand en reproduksiedoeltreffendheid. Spoorelemente soos sink, reguleer onder meer selverdeling in die liggaam. Om dié rede moet spoorelemente in groot hoeveelhede in die koei se liggaam teenwoordig wees veral voor kritieke ekonomiese tye.
Die regte spoorelement
Melkboere, veeartse en veekundiges moet seker maak dat kuddes waarby hulle betrokke is, spesifieke, doelgerigte spoorelement-aanvullingsprogramme in plek het. Hierdie aanvullingsprogramme moet meer ten doel hê as om spoorelement-tekorte te voorkom en moet veral fokus op spoorelementfunksies van produserende en reproduserende koeie tydens kritieke ekonomies gebeure.
Die vier belangrikste kritieke ekonomiese tye om op te let vir die bestuur van aanvullingstegnieke is voor kalftyd, voor bevrugting, of KI, wanneer die koeie afgedroog word, en gedurende tye van stres soos gedurende aktiewe groeiperiodes.
“Dit is veral belangrik om daarop te let dat aanvullings sowat vier weke voor hierdie tye toegedien moet word. Die rede hiervoor is omdat die metabolisme van die dier vier weke neem om die spoorelement te metaboliseer na die ensiem waarbinne die spoorelement aktief is. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die spoorelement seleen wat as onderdeel van die familie ensieme glutatioonperoksidase funksioneer. Hierdie seleen-ensieme maak ’n groot deel van die sellulêre antioksidantstelsel uit, wat op sy beurt weer die koei beskerm teen skadelike elemente, of sogenaamde vrye radikale,” sê Smith.
Een van die moeilike tye is wanneer koeie opgedroog word. “Die groot probleem kom gewoonlik voor gedurende die droë tydperk. Droë koeie op suiwelplase kry soms nie die aandag wat hulle benodig nie. Die fokus is altyd op die vroeëlaktasiekoeie. Volgens navorsing in Amerika is dit bekend dat melkkoeie tydens die droë periode en ook tydens vroeë laktasie spoorelemente verloor. Met ander woorde, sou ’n mens ’n grafiek trek, sou jy sien dat die spoorelementkurwe afwaarts loop. Dit is meestal toe te skryf aan aanvullingstegnieke tydens die droë tyd en vroeëlaktasieperiodes wat nie heeltemal op peil is nie,” verduidelik Smith.
Die gevare van oordadigheid
Hoewel dit selde gebeur, gee Smith toe dat daar soms te rojaal met spoorelement-toediening omgegaan word.
“Ek dink ons moet baie eerlik wees en eerder produsente waarsku om dit nie te oordoen nie. Die twee belangrikste spoorelemente rakende vergiftiging – seleen en koper – is veral gevaarlik indien te veel daarvan toegedien word. Ons sien dit egter baie min dat spoorelemente oordoen word, aangesien die veevoerbedryf baie goed opgelei is. Maak egter seker dat hierdie twee spoorelemente volgens die korrekte dosis toegedien word,” benadruk Smith.
Streeksverskille?
“Weidingstreke en die uitwerking daarvan op spoorelementbehoeftes is debatteerbaar, maar in my ondervinding van 35 jaar in die suiwelbedryf, kom ek al hoe meer tot die gevolgtrekking dat daar nie enorme verskille tussen streke is nie. Sommige streke het wel baie erger spoorelement-antagoniste as ander. Daar is byvoorbeeld dele in die Suid-Kaap, soos in die Mosselbaai- en George-omgewings, waar hoë ystervlakke in die drinkwater voorkom. Yster is natuurlik ’n baie sterk antagonis vir die opname van seleen en koper in koeie. Dit kan tot groot tekorte aan hierdie spoorelemente lei. Daarom moet ’n mens maar streeksgebonde kyk voordat ’n aanvullingsplan uitgewerk word. Antagoniste speel hierin beslis ’n groot rol: As die vlakke van yster, of kalsium en soms swael of molibdeen te hoog is, sal sekere spoorelemente, veral koper en soms seleen, sink, en mangaan nie goed geabsorbeer word nie.
“Die rede hiervoor is dat die antagoniste die spoorelemente onopneembaar maak in die spysverteringskanaal en dit dan deur die mis uitgeskei word,” sê Smith.
Hou jou aanvullings reg
Spoorelement-aanvullingsprogramme vir herkouers behoort altyd op twee bene te staan, naamlik orale aanvulling, soos met lekke, en inspuitings. Die inspuit van spoorelemente moet vier tot ses weke voor kalwing en weer vier tot ses weke voor KI gedoen word om te verseker dat spoorelementfunksies optimaal sal wees met kalwing en KI. “Goeiegehalte- inspuitbare spoorelementpreparate, wat die nodige spoorelemente teen die korrekte vlakke bevat, kan ’n baie positiewe verskil maak, aangesien hierdie spoorelemente nie in die spysverteringskanaal gebind kan word nie en hoogs doeltreffend deur diere benut word,” sê Smith.
Summary
Dietary supplements for your dairyherd may sound like another dieting advert, but it is essential to know which trace elements hold the greatest nutritional value for your herd. The Dairy Mail investigates the influence of supplements to keep your herd in tiptop shape.