Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

MPO Noord-Kaap optimisties - September 2010

deur Albie Muller, voorsitter van die MPO Noord-Kaap

Sedert my aanstelling as voorsitter van die MPO Noord-Kaap ’n paar maande gelede, het ek meer blootstelling aan my bedryfs­organisasie gekry en is daar nou ’n rustigheid en dankbare besef oor wat die MPO vir ons as produsente doen. Die vraag oor wat die MPO vir my doen, is in die afgelope ruk deur en deur aan my beantwoord.

Almal by die MPO bring hul kant en mense soos me Barbara Bieldt voer vele gevegte om eerlike, regverdige, gesonde en ekonomies regverdigbare invoere van suiwelprodukte te kontroleer.

Geen bedryfsorganisasie kan pryse bepaal of betrokke raak by prysgevegte nie. Ná jare by die Nasionale Wolkwekers­vereniging, weet ek dat ons nooit vir hoër wolpryse kon ­beding nie. Geen organisasies kan namens hul lede produsentepryse beïnvloed nie.

Ons kan egter die speelveld so gelyk moontlik maak deur byvoorbeeld ­relevante statistiek op die tafel te sit.

’n Ander onbekende faktor is weerpatrone wat lei tot paniek en onsekerheid oor tekorte of oorskotte. Onrealistiese invoere volg en die melkprys word verdiskonteer.

Dit bring my by die gesindheid en verhou­ding met melkkopers: Ons in die Noord-Kaap kan spreek van dankbaarheid jeens ons melkkopers soos Wanco Kimberley en DairyBelle in Bloemhof. Lede en melkkopers praat op ’n gereelde basis met mekaar oor die mark en voorkeurprodukte. Melkboere weet dus wat die kopers van hulle verwag en het ’n goeie idee waarheen die fabriek neig wat produkte en volumes betref.

Ná bykans twee jaar se rondvallery is elke melkboer in die gebied nou by die regte melkkoper en het ons ’n stabiele melkvloei tot almal se tevredenheid.

My standpunt is dat die besproeiings­gebied van die Noord-Kaap en veral die Modder­rivieromgewing, die klein Tsitsikamma van Suid-Afrika kan word. Dis sentraal geleë, het ’n betroubare voervloei, goeie klimaat en geniet goeie ondersteuning van die plaaslike landbou-ondernemings.

Vervoerkoste van ruvoer en mielies na melkboere in die Wes- en Oos-Kaap is duur, terwyl hier mieliekuilvoer, mielies, lusern en ­katoenpitte op hul voorstoep, oral in die Noord-Kaap, beskikbaar is.

Die Noord-Kaap se potensiaal is nog lank nie ten volle ontgin nie. Ons dag- en nagtemperature is geskik vir volhoubare melkproduksie. Verder is ons baie nader geleë aan die ­Gautengse mark as die kusgebiede.

Die MPO Noord-Kaap wil sy lede bedank vir hul ondersteuning van die verhoogde lede­geld van die MPO wat na 17 jaar vir die eerste keer aangepas is. Wees verseker dat elkeen op die raad as waghond optree en toesien dat elke bydrae behoorlik bestuur word.

E-mail this article