Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Kyk só na jou regte
en verpligtinge - September 2010

deur Gerrit Bezuidenhout

Die regte en verpligtinge van werkers en werknemers is ’n brandpunt in Suid-Afrikaanse arbeidsreg. Ver­al in die landboubedryf is die regte van werkers, asook die teenoorstaande verpligtinge van werkgewers ’n realiteit wat die boer nie durf misken nie. Groot boetes en strawwe kan opgelê word indien ’n werkgewer, óf goedsmoeds, óf deur onkundigheid versuim om sy verpligtinge jeens sy werknemers na te kom. Arbeidsregkenner Carel Visser van die Landbouwerkgewersorganisasie vertel meer oor die regte en verpligtinge wat die boerderybedryf beïnvloed.

Die wet wat plaasarbeid beheer
Volgens Carel is die goue reël wat werknemersregte op plase beheer, die sogenaamde sektorale vasstelling 13 wat spesifiek op plaaswerkers gerig is.

Sektorale vasstelling 13 is ’n regulasie van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Hy sê sektorale vasstellings is onder andere minimum lone in spesifieke bedrywe reguleer en maak voorsiening vir verskillende minimum lone vir verskillende areas soos stedelik­e en landelike gebiede.

Sekere vasstellings verskaf voorbeelde van dienskontrakte, salarisstrokies asook pos-beskrywings, terwyl riglyne gegee word in terme van verlof, siekteverlof en verlof vir gesinsverantwoordelikheid. Ingevolge wetgewin­g moet alle werkgewers op wie sektorale vasstellings bindend is, in besit wees van die relevante dokument.

Sektorale vasstelling 13
Regulering van die landboubedryf word onder ’n aantal hofies in sektorale vasstelling 13 uiteengesit. Hierdie hofies sluit onder­-meer in:

• Werkure van toepassing op die landbou
• Verlof
• Skriftelike besonderhede van diens wat aan die werker voorsien moet word
• Rekordhouding
• Vergoeding
• Aftrekkings
• Berekening van lone
• Diensbeëindiging
• Indiensneming van kinders
• Regte van werkers.

Waar kom die boer in?
“Die belangrike ding wat boere altyd in gedagte moet hou wanneer dit kom by die regte en verpligtinge wat nagekom moet word, is dat ’n boerdery, ongeag sy grootte, ’n onderneming is. In die verlede het produsente nie regtig erns gemaak met hierdie feit nie wat tot groot ongelukkigheid kan lei wanneer arbeidsinspekteurs by hulle op die plaas aankom,” sê Carel.

Volgens die sektorale vasstelling kan ’n ­arbeidsinspekteur op enige redelike tyd enige werkplek, perseel, private werkverskaffingskantoor sonder ’n lasbrief of kennisgewing betree in die uitvoering van sy pligte. ’n Inspekteur mag ’n woning egter net betree met die instemming van die eienaar of inwoner of ingevolge ’n bevel van die Arbeidshof. Inspekteurs het wye bevoegdhede om te ondervra en te ondersoek en die wet verplig werkgewers om hulle samewerking te gee.

Volgens die Arbeidswet moet boere sekere dokumentasie in besit hê wat tydens inspeksie voorgelê moet word. Die belangrikste dokumentasie, wat natuurlik ’n verpligting van die werkgewers se kant af is, is dienskontrakte vir alle werknemers.

“Dienskontrakte vir alle werkers, of hulle nou permanent of tydelik is, moet beskikbaar wees. Dienskontrakte moet spesifiseer wat die werknemer se pos is, sy normale werksure, vergoeding vir oortydwerk, vergoeding vir werk op Sondae, en verlof moet ook in hierdie kontrak bespreek word,” sê Carel.

Bykomende dokumentasie sluit ook beta­lingstrokies vir werknemers in.“Afgesien van die werker se salaris of loon moet die betaalstrokie ook aftrekkings aandui. Die sektorale vasstelling wyk hier effens af van ander vasstellings deur spesifiek te verwys na aftrekkings wat die werkgewer mag maak betreffende behuising, asook die verskaffing van rantsoene. ’n Aftrekking vir behuising mag wel geskied indien die werkgewer behuising aan die werknemer verskaf van ten minste 30 m2, wat ook voorsien is van elektrisiteit, lopende water en toiletgeriewe. In hierdie geval mag die werkgewer 10% van die werknemer se bruto salaris aftrek vir behuising. In die geval van rantsoene soos wanneer die boer vir sy werkers kos gee, soos ’n sak meel of vleis elke maand, kan die werkgewer ook 10% van die werker se bruto salaris aftrek,” sê Carel. Hier verwys hy spesifiek na gevalle in die Wes-Kaap waar melkboere aan hulle werkers ontbyt en/of middagete verskaf. Carel benadruk dit egter dat hierdie tipe aftrekkings duidelik op die betalingstrokies aangebring moet word. Dit moet ook presies op die salarisstrokie aangedui word waarvoor die aftrekkings is.

Sorg vir jou werkers
“Die arbeidsinspekteurs sal ook die werkloos­heidsversekeringsfondsstatus van die werk­gewer nagaan om seker te maak dat hy opbetaal is en op datum is met die WVF,” sê Carel.

Die meeste boere is vertroud met die WVF, maar sê Carel, hulle moet ook verseker dat hulle en hul werkers by die Ongevallekommissaris geregistreer is. Alhoewel die WVF die fonds is waarna werkers hulself wend indien hulle ontslaan word, of medies ongeskik verklaar word, is dit die Ongevallekommisaris wat ter sprake kom wanneer ’n werker aan diens beseer word.

“Betalings aan die Ongevallekommissaris is van kardinale belang om vervolging en persoonlike aanspreeklikheid te voorkom. Wat betref die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, en die Wet op die Kompensasie vir Beroepsbeserings/siektes, is alle werk­gewers verplig om by te dra tot die Ongevallever­sekeringsfonds. Die wet is egter nie van toepassing op huiswerkers in ’n privaat woning nie,” verduidelik Carel.

Volgens die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid word ’n besering wat aan diens plaasvind so omskryf: “’n Beroepsbesering of besering aan diens is ’n ongeluk of besering waarvan die tyd en plek bepaal kan word en wat gebeur voortspruitend uit die diens van ’n persoon binne werkstyd en die bestek van so ’n persoon se werk en wat dan natuurlik ’n besering tot gevolg het.”

Alle beserings en ook beweerde beserings aan diens wat mediese onkoste tot gevolg het, asook alle beserings aan diens wat enige afwesigheid tot gevolg het, wat tot veroorsaak dat die werker vir meer as drie dae afwesig is, moet ook binne sewe dae gerapporteer word.

Die wet waarsku ook dat versuim om die besering aan te meld of waar die tydsverloop vanaf die geval van die besering tot waar dit aangemeld word, langer as sewe dae is, ’n kriminele oortreding is, strafbaar met tot drie jaar tronkstraf of R100 000 boete.

“Dit is sulke dinge waarmee produsente erns moet maak,” sê Carel.
Hy sonder hier ook ’n veilige werksom­gewing uit, veral waar daar met entstowwe en dipstowwe gewerk word.

“As ’n mens kyk na voorbeelde soos werkers wat beeste moet dip, of moet werk met stowwe wat ingespuit moet word, moet die boer seker maak dat hulle beskermende klere alles in orde is.

“Dit beteken dat daar genoeg gesigmaskers, brille, handskoene en ander beskermende klere is na gelang van die aard van die werk wat uitgevoer moet word. Indien daar iets met die werker sou gebeur, kan nalatigheidseise ter sprake kom en indien die werkgewer nalatig was, kan dit hom baie duur te staan kom,” verduidelik Carel.

Wanneer met giftige of vlambare stowwe gewerk word, moet dit ook sorgvuldig weggebêre word.

Wat van behuising?
Die groot vraagstuk rondom werkerbehuising en hul reg om aan te bly op die plaas word al lank oor gedebatteer.

Carel verduidelik dat die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997, grootliks die vrae rondom verblyfreg en plaaswerkers beantwoord.

Ter opsomming noem hy die volgende voorbeeld:
“As jy na die wetgewing kyk sal jy sien dit bepaal dat as ’n werknemer op ’n plaas ontslaan word, hy 30 dae kennis gegee moet word om die plaas te ontruim. Maar volgens Wet 62 van 1997, as ’n persoon 10 jaar of langer vir die werkgewer werk en daarby òf aftree, òf medies ongeskik verklaar word, verkry daardie persoon lewenslange verblyfreg en as hy die dag tot sterwe kom, het sy familie, of dan sy afhanklikes, nog ’n tydperk van 12 maande wat hulle op die perseel mag bly. Maar dit moet in gedagte gehou word dat die vereiste nie 50/50 verdeel kan word nie – die 10 jaar moet gekoppel wees aan aftrede of mediese ongeskiktheid. Indien albei faktore nie aanwesig is nie, kwalifiseer die bepaling nie en geld die 30-dae-reël.”

Die regte van werkers
Ten slotte gee die wet ook uitdruklik beskerming aan werkers om die volgende uit te oefen:
a) by ’n vakbondverteenwoordiger, ’n vakbondbeampte of ’n arbeidsinspekteur ’n klagte te lê betreffende enige beweerde versuim of weiering deur ’n werkgewer om die wet na te kom
b) sy of haar diensvoorwaardes met sy of haar medewerknemers, sy of haar werkgewer of enige ander persoon te bespreek
c) te weier om ’n opdrag wat in stryd met die wet of ’n sektorale vasstelling is, na te kom
d) te weier om in te stem tot enige beding of voorwaarde van diens wat in stryd met hierdie Wet of sektorale vasstelling is.

Summary
The rights of workers and the subsequent legal obligations to employers, is a frequently debated question in South African labour circles. The Dairy Mail investigates the laws that govern the rights and obligations of the South African agricultural sector.

E-mail this article