Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Johne se siekte in toom... vir nou
- September 2010

Liza Burger

Johne se siekte, ook bekend as paratuberkulose, is ’n soort tering wat hoofsaaklik in herkouers voorkom, en ernstige gevolge vir besmette suiwelkuddes kan hê.

Hoewel skape en beeste albei deur Johne se siekte geraak word, is dit veral skape wat gevaar loop om dit op te doen in Suid-Afrika. Die siekte bly egter ’n bedreiging vir vee en veral melkkoeie.

Volgens dr Mohammed Moola, veearts by Virbac in beheer van die Gudair-entstof, gemik op die voorkoming van die siekte in skape en bokke, loop veral melkbeeste gevaar om die siekte op te doen en te versprei in lande soos Kanada en die VSA.

"Gelukkig is daar tot dusver baie min gevalle in Suid-Afrika aangemeld, maar in die res van die wêreld is dit 'n groot probleem onder suiwelkuddes. Daar word gehoop dat plaaslike veekuddes vry van Johne se siekte sal bly," sê Moola.

Hoewel die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf tot dusver taamlik vry van die siekte bly, is dit interessant om daarop te let dat dit die eerste keer in 1895 in 'n melkkoei beskryf is.

In vergelyking met ander siektes, is Johne se siekte traag om simptome te toon en diere wat met die bakterie, Mycobacterium avium (subspesie paratuberkulose) besmet is, kan vir 'n lang tyd gesond bly nadat die dier geïnfekteer is.

Hierdie Trojaanseperd-karakter van die siekte beteken dat dit ongemerk sy tyd kan neem om na die res van die kudde te versprei.

Dit is onmoontlik om te weet of jou kudde geïnfekteer is of nie as jy nie daarvoor toets nie. Hoewel sommige dele van die land 'n groter voorkoms van die siekte onder verskillende diere, veral kleinvee toon, kom Johne se siekte wêreldwyd voor. Selfs as jou kudde vandag skoon is, verg dit steeds streng maatreëls, biosekuriteit en protokolle – veral wanneer nuwe diere na die kudde gebring word – om dit skoon te hou.

Die siekte is aansteeklik, gehard, kan nie doeltreffend behandel word nie en veroorsaak ernstige gewigsverlies en diarree by herkouers. Ten spyte van 'n goeie eetlus, sal die dier uiteindelik van honger vrek weens die wanabsorpsie van voedingstowwe.

Dit is nie net in jou eie belang om die verspreiding van die siekte te keer nie, maar ook in die belang van die gesondheid van die hele land se kuddes.

Opdoen van Johne se siekte
Diere doen meestal die siekte op binne die eerste paar maande ná geboorte. Tekens van die siekte kan egter vir maande of selfs jare latent bly.

In Suid-Afrika is dit 'n beheerde siekte en daar bestaan nie 'n entstof vir skape en bokke nie.

Daar is geen doeltreffende behandeling of geneeskunde voorkoming van die siekte vir beeste nie en die bestuur van jou kudde en biokontroles is maar die doeltreffendste manier om die siekte te bekamp.

Gewoonlik word ’n skoon kudde besmet deur ’n nuwe dier wat by die kudde gevoeg word. Die dier kan gesond lyk en steeds ’n draer van die siekte wees. Die bakterie word gewoonlik versprei deur mis op weidings of besoedelde waterbronne. Die gehardheid van die patogene maak dat dit vir maande buite die dier kan oorleef en weidings kan vir geruime tyd besmet bly.

Aangesien jong diere maklik die siekte kan opdoen, moet ’n mens sorg dat die kalfhokke onbesmet bly. Johne se siekte kan ook deur besmette kalwers deur besmette melk van besmette diere of in-utero versprei word.

Simptome van Johne se siekte
Dit is nie maklik om 'n siek dier met Johne se siekte raak te sien nie, aangesien die simptome nie net 'n aanduiding van Johne se siekte is nie. Vermoedens kan slegs deur laboratoriumtoetse bevestig word. Die twee belangrikste tekens om voor uit te kyk by melkkoeie, is vinnige gewigsverlies en diarree. Hoewel die koei se eetlus goed sal bly, sal haar kondisie vinnig agteruit gaan en sal sy swak word.

Wetenskaplikes moet nog vasstel presies hoe en hoekom Johne se siekte is soos 'n tikkende tydbom met 'n lang lont is. Ons weet egter dat die infeksie in die laaste deel van die dunderm bly. In ’n stadium begin die bakterieë vermenigvuldig en skop die dier se immuunstelsel in. Granulomateuse ontsteking kom voor wat veroorsaak dat die derm wand verdik.

Die gevolg is dat voedingstowwe nie doeltreffend geabsorbeer kan word nie en die toenemende wanabsorpsie laat die dier uiteindelik van honger vrek. Op sy ergste raak die uitwerking van Johne se siekte vinnig sigbaar deur haar skielike verswakking en daling in melkproduksie. Aangesien daar geen doeltreffende behandeling teen Johne se siekte is nie, is uitdunning is die enigste lewensvatbare opsie voor natuurlike dood intree.

Voorkoms van paratuberkulose
Johne se siekte kom oral in die wêreld voor, veral onder aangehoude diere, wat wissel van kommersiële lama- en bisonkuddes tot bokke, skape en beeste. Kuddediere, of waar intensiewe veeboerdery beoefen word, is meer vatbaar vir die siekte as vrylopende diere. Herkouers word hoofsaaklik geraak, hoewel die bakterieë kan uitbrei na karnivore (sonder enige sigbare uitwerking op hul gesondheid).

Onlangse navorsing in die Verenigde State het getoon dat 'n geskatte 8% van vleisbeeste en 68% van melkbeeste positief getoets het vir die bakterie Mycobacterium avium in minstens een dier in die kudde.

Australië is een van die lande waar die voorkoms van Johne se siekte afgeneem het danksy 'n nasionale poging om besmette diere te slag, kuddes te toets en doeltreffende biosekuriteitsmaatreëls in kuddes te tref.

In Suid-Afrika is daar aansienlike pogings om die voorkoms van die siekte te bekamp, veral in skape. Dr Jacoba Wessels van die Mpumalanga Staatsveearts in Nelspruit sê die siekte word selde opgemerk in vee en dit is hoofsaaklik skape wat in Suid-Afrika daardeur geraak word. ’n Uitbreking in 2005 in Middelburg in die Oos-Kaap het gemaak dat 218 skape van kant gemaak moes word.

Gevalle van beeste is egter nie ongehoord nie en die mees onlangse gevalle is sedert 2007 aan die Staatsveearts in Groblersdal, Mpumalanga (Maart 2007): Thaba Chweu, Mpumalanga (Augustus 2007), Bronkhorstspruit en Pretoria (Julie 2008), Groter Zeerust, Noordwes Wes Provinsie (Mei 2009) en Robertson in die Wes-Kaap in Mei 2009 aangemeld.

Ondanks die feit dat die siekte plaaslik selde in beeste gediagnoseer word, beteken dit nie dat Johne se siekte nie ’n bedreiging inhou nie, aangesien die simptome verwar kan word met 'n hele aantal ander siektes.

Hoewel die meeste melkboere versigtig is oor aansteeklike siektes, glo nie almal ewe sterk daaraan om hul kuddes gereeld te laat toets vir TB en brusellose nie, laat staan nog 'n siekte soos Johne se siekte. Hierdie kuddes hou 'n bedreiging in vir die integriteit van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf, wat tans ’n tydperk relatief vry is van die siekte.

Nog ’n bedreiging veral in landelike gebiede, is rondloperbeeste wat besmet mag wees en die siekte na skoon beeste op naburige plase kan versprei.

Die gebrek aan biosekuriteitprotokolle is ’n ander bydraende faktor tot die verspreiding van die siekte.

Die insluiting van nuwe diere in ’n kudde sonder nodige sertifikate of gesondheidsertifikate of standaardkwarantyn en gesondheidsorgmaatreëls kan biosekuriteit in gedrang bring. Hierdie fout word vererger deur ongetoets diere op veilings of uit die hand te koop en verkoop.

Bedreiging vir die mens
Johne se siekte is nog nie bevestig as 'n soönotiese siekte nie, maar die moontlike verband tussen Johne se siekte in diere en Crohn se siekte in mense word nog ondersoek. Die oorsaak van Crohn se siekte is nog onbekend en daar is geen genesing vir hierdie chroniese inflammatoriese dermsiekte nie. Tot nou toe kon geen positiewe verband bewys word tussen kontak met diere met Johne se siekte of suiwelprodukte nie.

Beheer van Johne se siekte
Die hoofbron van besmetting met Johne se siekte is mis van 'n besmette volwasse dier. Om pasgebore diere te beskerm, is 'n skoon kalwingsomgewing en die voer van melk en water wat vry is van die bakterieë wat Johne se siekte veroorsaak, noodsaaklik.

Volwasse diere wat besmet is met die siekte moet geïdentifiseer word, onder kwarantyn geplaas en beheer word om te voorkom dat jong diere aan hul melk of mis blootgestel word. Uitdunning van siek diere is gewoonlik die kostedoeltreffendste manier om die siekte te bestry.

E-mail this article