Welcome to The Dairy Mail
Boere positief in moeilike tye - September 2010
deur Philip Swart
Die direksie van die MPO het besluit om vir die eerste keer sedert 1992 ’n opwaartse aanpassing in ledegeld te doen. Dit opsigself is ’n pluimpie in die hoed van die MPO. Ek wil my verstout om te sê dat daar waarskynlik geen ander lede-organisasie is wat die MPO hierin kan nadoen nie. Sien hiermee saam die feit dat sowat 84% van die huidige aantal melkprodusente lede van die MPO is. ’n Logiese afleiding hieruit is dus dat die MPO as organisasie sy vinger op die pols het en grotendeels aan die behoeftes van sy lede voldoen. Geen organisasie is perfek nie en geen organisasie kan alles vir almal wees nie, maar daar word voortdurend gekyk na wat die MPO as ’n verdere voordeel vir sy lede kan bied.
Met die huidige invordering van nuwe lidmaatskapvorms (met verhoogde ledegeld) gaan dit regtig baie goed. Meegaande grafiek (Figuur1) toon ’n skematiese voorstelling van persentasievorms van elke streek wat reeds ingevorder is teenoor die totale aantal produsente wat steeds in die bedryf oor is.
Die kompetisie tussen die Wes-Kaap en KZN is baie sterk en ons is vol vertroue dat dit ook sal oorspoel na die ander streke.
In die proses om die nuwe lidmaatskapvorms vanaf die produsente te kry, was dit noodsaaklik om weer met nuwe fokus deur die bestaande ledelyste te werk. Waar daar drie jaar gelede sowat 3 400 produsente in die land oor was, het hierdie syfer gedaal na die huidige getal van ongeveer 2700 produsente.
Dit dui op ’n daling van sowat 20% oor die afgelope drie jaar. Hierdie syfer strook met syfers van die VSA. Daar is ’n daling van 10% per jaar nie buitengewoon nie. Dit sal kortsigtig wees om net na die persentasies te kyk, aangesien die fisiese getalle ter sprake uiteraard dramaties van mekaar verskil (RSA vs VSA).
Met dit in gedagte is die daling van 3 400 na 2 700 regtig kommerwekkend. ’n Hoogleraar aan die Drew Universiteit, dr Leonard Sweet, het die volgende stelling in hierdie verband gemaak: “The future is not something we enter, the future is something we create.” Hierdie stelling dra ’n baie belangrike boodskap aan alle rolspelers en belangegroepe binne die suiwelbedryf. Die rooi ligte flikker en die tendens sal omgekeer moet word.
As die redes vir die daling in produsentegetalle soos aangetoon in die VSA ontleed word, stem dit grotendeels ooreen met wat in Suid-Afrika ervaar word.
• Minder, dog groter suiwelplase
• Groter druk op omgewingsbeperkings
• Minder, dog groter kliënte (kettingwinkels)
• Verandering in kliëntevoorkeure
• Groter invloed van wêreldmarkte
Terug by die insameling van lidmaatskapvorms. (Figuur 2) toon ’n voorstelling van persentasievorms (per streek tov die totaal) wat reeds ontvang is.
Vanaf die MPO sê ons baie dankie aan elkeen wat reeds sy vorm voltooi en ingestuur het en wil ons graag vir dié van u wat dit nog nie gedoen het, aanmoedig om dit onverwyld te voltooi en in te stuur.