Welcome to The Dairy Mail
Hoekom faal antibiotika - September 2010
deur dr Chris van Dijk
Antibiotika word algemeen op plase gebruik. Indien korrek toegedien, is dit baie nuttig. Indien dit egter verkeerd aangewend word, kan dit swak resultate, vermorste tyd, kostes en onbruikbare melk en vleis veroorsaak. Op melkplase is residue van antibiotika ook ’n groot probleem en deur verkeerde gebruik, kan ’n mens antibiotikaweerstand aanhelp.
Hoe om die slaggate te vermy
Verskeie faktore beïnvloed die sukses van antibiotikabehandeling. Antibiotika werk nie altyd nie, maar die korrekte opleiding en kennis kan die suksessyfer verhoog.
Immuunstelsel en antibiotika
Die immuunstelsel moet ten slotte die bakterie vernietig. Antibiotika is óf bakteriedodend óf bakteriostaties. Laasgenoemde verlangsaam die bakteriegroei en gee die immuunstelsel kans om sy werk te doen. Die immuunstelsel moet altyd optimaal funksioneer. Voeding moet ook optimaal voorsien word en spoorelemente soos seleen, mangaan en sink moet bevat. Interne parasiete en immuunonderdrukkende virusse moet tot ’n minimum beperk word. Die omgewing van die siek dier moet bevorderlik vir genesing wees – kalwers in hokke wat na urine ruik en met ’n koue trek sal sukkel om gesond te word.
Volume van middel
Nadat ’n middel ingespuit is, word dit geabsorbeer en na die res van die liggaam versprei. Met binneaarse inspuiting begin die proses dadelik, maar met binnespierse en onderhuidse toediening is daar ’n tussenfase waar die produk nie dadelik, geabsorbeer word nie.
Volg aanwysings
Die farmakologiese beginsel is om soveel aktiewe middel, so gou moontlik by die infeksie te kry. Die aktiwiteit van die middel word beïnvloed deur die omstandighede waaronder dit gestoor word – as die produk tussen 2 tot 4° gehou moet word, dan hoort dit in die yskas. Moenie vervalde middels gebruik nie. As die etiket aandui dat die middel voor gebruik geskud moet word, doen dit. Maak seker die korrekte dosis vir die korrekte massa word toegedien. Te veel is net so skadelik as te min.
Verkeerde middel
Penisillien is doeltreffend teen G-positiewe organismes maar het min of geen effek teen G-negatiewe organismes nie. Dit is deels as gevolg van die verskil in die selwande van die bakterieë. Baie bakterieë het die genetiese potensiaal om weerstand teen ’n middel te ontwikkel. ’n Middel wat teen een bakterie werk, sal nie noodwendig teen ‘n ander werk nie. Antibiogramme en laboratoriumprosedures sal u veearts help met die voorskryf van die korrekte middel.
Moenie middels meng nie
Sekere kombinasies van middels bv jou penisillien en tetrasiklien kan dodelik wees. Moenie middels self meng tensy u veearts dit so aanbeveel het nie.
Lesers is welkom om die outeur regstreeks te kontak by 082 789 4499 of per e-pos by chris.vandijk@pfizer.com.