Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Die mark vir suiwelprodukte groei - May 2010

Ten spyte van die druk waaronder die verbruiker sedert 2008 verkeer, is daar duidelike tekens dat die vraag na suiwelprodukte in 2009 toegeneem het en waarskynlik verder gaan toeneem in die opwaartse fase van die ekonomiese siklus.

Die afswaai in die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert 2008 het die verbruiker swaar getref. Werkloosheid het toegeneem. In die eerste drie kwartale van 2009 het ’n beraamde 350 000 mense hul werk verloor. Hoewel die informele sektor ’n deel van die werklose massa absorbeer, het Suid-Afrika se totale werkloosheid, volgens die eng definisie, in die vierde kwartaal marginaal verbeter tot 24,3%. Die persentasie sluit nie diegene in wat moed opgegee het en nie meer na werk soek nie.

Groter werkloosheid en effens matiger salaris- en loonverhogings het die groei in die verbruiker se besteebare inkomste beperk en sy skuldlas as persentasie van besteebare inkomste verhoog (Figuur 1). In die vierde kwartaal van 2009 het daar egter ’n ommeswaai in huishoudings se besteebare inkomste plaasgevind. Na vyf kwartale van negatiewe groei, het dit met 2,7% gegroei.

Gelukkig het die daling in rentekoerse die terugbetalingslas op die verbruiker beperk. Skuld­dienskoste as persentasie van besteebare inkomste het gedaal van ’n piek van 11% aan die einde van 2008, tot 8% teen die einde van 2009. Die ­onverwagse verlaging in rentekoerse in Maart 2010, sal verdere verligting vir die verbruiker bring.

Verbruiksbesteding daal
Die druk op die verbruiker het tot laer verbruiksbesteding gelei. Totale besteding deur huis­houdings het op ’n jaar-tot-jaar basis met 3% gedaal. Teen die vierde kwartaal van 2009 is daar vir die eerste keer, na vyf kwartale van negatiewe groei, positiewe groei van 1,4% bespeur. Kleinhandelverkope het egter tot aan die einde van 2009 negatief gegroei (Figuur 2).

Daar is groot verskille tussen die groei in kleinhandelverkope tussen die verskillende tipes kleinhandelaar. Kleinhandelverkope het in die drie maande van November 2009 tot Januarie 2010 in reële terme met 4,1% gedaal. Algemene handelaars en spesialis-voedselwinkels se verkope was 3,2% en 1,6% laer, terwyl handelaars in hardeware, verf en glas 15,8%, en ander handelaars 10,3% minder verkoop het. Huishoudelike meubels en toerusting se verkope het met 0,4% gestyg. Swak verkope in vorige maande het daartoe gelei dat pryse in dié kategorie baie verlaag is en verbruikers het die geleentheid gebruik om winskopies te verkry.

Daar is tekens dat die Suid-Afrikaanse ekonomie besig is om te herstel. Die Reserwebank se konjunktuurgolf-aanwysers toon dat ’n oplewing in ekonomiese aktiwiteit verwag word. Die leidende aanwyser wat vanaf Junie 2007 tot ­September 2009 gedaal het, het sedertdien gestyg. Die saamvallende aanwyser is nog in ’n daalfase, maar die koers waarteen dit daal het verstadig en ’n draaipunt is waarskynlik naby.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie tot dieselfde mate deur die resessie getref as ander ekonomieë nie. Na drie kwartale van negatiewe groei, het die Suid-Afrikaanse ekonomie in die derde en vierde kwartaal van 2009 positief gegroei. Vir 2010 is die konsensusverwagting van Sake 24 se ekonome, ’n groei van 2,6%.

Gunstiger vooruitsigte
Statistiek wat betrekking het op die gemiddelde verbruiker, dui nie die groot veranderinge aan wat daar in die verbruikersmark plaasgevind het nie. In 2001 was 39% van die Suid-Afrikaanse bevolking in die onderste drie inkomstegroepe (LSM 1-3) en 50% in die middelklas (LSM 4-8). In 2008 daal die persentasie in LSM 1-3 na 22% en styg die persentasie in LSM 4-8 na 62%. Soos verbruikers se inkomste styg, verander hulle eetpatrone vanaf hoofsaaklik styselgebaseerde na meer proteïen-gebaseerde diëte. Die vraag na suiwelprodukte styg dus ten spyte van die algemene daling in ­verbruiksbesteding en kleinhandelverkope.

Syfers wat onlangs deur Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie, Sampro, bekend gemaak is, toon dat die vraag na suiwelprodukte inderdaad in 2009 ten spyte van die resessie gestyg het en vir die elf maande tot Desember 2009 meer is as in die ooreenstemmende tydperk in 2008. Totale verkope vir die twee word in Tabel 1 aangedui. Op ’n melkekwivalent-basis is suiwelverkope gedurende Februarie tot Desember 2009, 4% meer as gedurende dieselfde tydperk in 2008. Groter stygings het in onlangse maande voorgekom.

Lae voedselinflasie, die onlangse verdere verlaging in rentekoerse, die verwagte vinniger groei in die ekonomie asook die reeds vermelde groei in die middelklas, behoort die verbruik van suiwel­produkte in 2010 verder te verhoog. Met die uitsondering van roomkaas, het die vraag na al die suiwelprodukte toegeneem vergeleke met die vorige jaar. Hoewel die syfers nie die totale suiwelmark dek nie, is dit duidelik dat daar wel positiewe groei in die mark is.

E-mail this article