Welcome to The Dairy Mail
Kruisteel vir jou pond vleis
deur Karien Slabbert
“Melkboere behoort skeppend te begin dink en opsies te oorweeg om hulle inkomste te verbreed en uitgawes te besnoei,” sê Thys Swart van Bavarian Fleckvieh Genetics. Een manier om dít te doen, sê Thys, is om ’n vleisinkomste uit melkkoeie te begin genereer. Thys glo dat vleisverkope ’n verskil aan boerdery-inkomste maak – sonder dat dit tot enige melkverliese sal lei.
Die Fleckvieh-beesras, ook bekend as die Duitse Simmentaler, is ’n dubbeldoelras wat toenemend op melkkuddes gebruik word. “Flekviehkruise produseer melk soos ’n suiweldier én het sterk vleiseienskappe,” sê Thys.
Volgens hom hou Flekviehkruise die volgende voordele in:
- Kalwers is lewenskragtig en maak maklik groot
- Daar is ’n beter groei op kalwers
- Daar is ’n verhoogde aanvraag deur voerkrale vir Fleckviehkruise
- Kruisverse is gouer dekgereed
- Hulle beskik oor uitstekende loopvermoë
- Koeie toon ’n plat laktasiekurwe
- Navorsing in Zurich, Switserland, het getoon dat die Simmentaler/Fleckviehras se voeromset, innames en veeartsenykostes uiters ekonomies is.
Meer melk
Thys sê dat Fleckviehkruisverse selfs meer melk as hulle suiwelmoeders kan produseer. Michael Barry van die plaas Dundoland in die Suid-Kaap, se 450-koei kudde is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
Volgens Pierre Laesecke, bestuurder van Dunport Enterprises, produseer Dundoland se kruisverse én selfs die F2-verse wat 75% Fleckviehbloed bevat, meer melk as hulle suiwer Jersey-tydgenote onder dieselfde toestande. Die derde-laktasie Fleckviehkruise produseer gemiddeld 6 970 kg melk. Die naaste Jerseykoeie, onderskeidelik dogters van Rivers Imperial en Baretta Jack, het gemiddeld
5 673 en 5 403 kg melk geproduseer.
Die Landbounavorsingsraad (LNR) se Farm Report, sit die voorspelde 305-dae melkproduksie (vier toetse, 105 dae-in-melk) op Dundoland in Tabel 1 uiteen.
Een van die grootste vrese by Jerseyboere, sê Pierre, is dat kruisdiere te groot kan wees. Op Dundoland is die teendeel egter bewys. Hulle weeglys vir ses-maande-oue verse soos op 31 Januarie 2007 toon die volgende:
Jerseyverse – 112,4 kg (120)
Fleckvieh x Jersey
(50% Fleck) – 155 kg (17)
F2 (75% Fleckvieh) – 155,5 kg (4)
Volgens Pierre het die vroulike kruise steeds suiweleienskappe en is hulle steeds klein van raam. Agtien-maande-oue dragtige verse weeg gemiddeld 340 kg, terwyl twee-en-’n-half-jaar-oue Fleckviehkruise gemiddeld 380 kg geweeg het.
Thys noem dat produsente ook ’n ekstra inkomste uit dubbledoelras-speenkalwers kan genereer. Hy noem dat syfers daarop dui dat selfs die Fleckvieh gekruis met suiwelraskoeie (Jersey en Holstein), se bulkalwers bykans dieselfde groei as vleisrasse toon (200 kg + op sewe maande).
’n Duursame, lae-insetkoei
Graham and Alasdair Broadbend van Springmount Trust naby Alexandria in die Suid-Kaap, melk tans 750 koeie en het ’n gemiddelde daaglikse melkproduksie van 18 liter per dag. Vir die afgelope jaar word slegs Fleckviehsemen op die Springmount Trust-koeie gebruik.
Die Broadbends het oorspronklik met Guernseys geboer en het later na Holsteins oorgeslaan. Daar was ook Friesland x Guernsey-Friesland x Jersey-koeie in die kudde. Alasdair sê dat hy nooit gelukkig met enige van dié diere se resultate was nie.
Volgens Alasdair was hulle op soek na ’n duursame lae-insetkoei met loop-, melk- en vrugbaarheidsvermoë. Benewens dit, wou hulle ook ’n hoër inkomste per koei, ten spyte van laer melkpryse, genereer. Die Broadbends was ook op soek na ’n hoër uitskotwaarde vir koeie en bulkalwers. Hulle het al hierdie eienskappe in die Fleckviehras raakgesien.

Volgens Thys was een van die belangrikste gevolgtrekkings wat uit die Broadbents se syfers gemaak is, dat ’n koei wat nie ’n Fleckvieh bulkalf het nie, tussen 2 340 liter en 670 liter meer melk moet produseer om dieselfde wins te maak as ’n koei met ’n Fleckviehkalf. Volgens Thys is daar soos volg by hierdie gevolgtrekking uitgekom:
Die gemiddelde melkproduksie per koei op Springmount is 18 liter x 305 dae = 5 490 liter. Volgens David Beca se Tri Nations Revisited-toespraak tydens die Large Herds Conference, toon plaaslike produsente ’n gemiddelde wins van 27 sent per liter. Dus 5 490 liter x 27 sent = R1 482,30 wins per koei.
Die gemiddelde vleisinkomste per kruiskalf op Springmount (Fleckvieh x Jersey en Fleckvieh x Holstein) is: Kalfverkope teen 264 kg lewendige gewig x R10,60) = R2 795. Na alle koste verhaal is (voer, weiding, arbeid en veeartseny) is die gemiddelde wins per kalf R632.
Deel nou R0,27 (die wins per liter) deur R632 en jy kry 2 340 liter wat ’n koei meer moet produseer indien sy ’n Jersey-bulkalf gehad het, om die koeie te ewenaar wat ’n Fleckviehbulkalf gehad het.
’n Koei wat ’n Holsteinbulkalf gehad het, moet steeds 670 liter meer produseer om die inkomste te ewenaar. By die Broadbends moes suiwer Holsteinbulle 30 dae langer as Fleckviehkruise aangehou word om 267 kg te bereik. Hulle wins was slegs R451 per kalf.
’n Nuwe dimensie
Kosie van den Berg, wat naby Kuruman in die Noord-Kaap boer, het 12 jaar gelede sy pa se Jerseykudde oorgeneem. Daar was op volvoer gemelk en die kudde het hoë produksiesyfers getoon. Weens hoë voerkoste moes daar egter drastiese stappe geneem word. Hy het besluit om sy Jerseykoeie met vleis-Simmentalers te kruis, sodat dié kruise die omgewing se harde, natuurlike weidings kon benut.
Die eerste kruisteling met vleis-Simmentalers is reeds in 1996 gedoen. Ingevoerde Fleckvieh-semen was egter nog nie so beskikbaar nie. “Gemengde sukses is met hierdie kruise van die veld behaal. Vordering was aanvanklik stadig, maar later kon die kudde vinniger in ’n spesifieke rigting beweeg soos ingevoerde Fleckvieh-semen beskikbaar geraak het,” volgens Kosie.
Vanaf 2000 is slegs Simmentaler/Fleckvieh-semen op die totale kudde gebruik. Jersey koeie is steeds op volvoer gemelk, terwyl die kruise en skoon Simmentalers die harde veld moes benut. Die eerste F3-diere wat 87,5% Fleckviehbloed bevat, is reeds in melk. Daar is ook suiwer-Simmentalers in die stal wat uit vleis-Simmentaler moeders geteel is deur ingevoerde Fleckviehsemen te gebruik.
In 2002 het NCD/Clover, aan wie Kosie melk gelewer het, besluit dat die melkroete waarop hy geleë is, gesluit gaan word. Na die sluiting van die roete het Kosie alle Jerseykoeie op ’n veiling verkoop en sy kruise veld toe gejaag. Vir ongeveer ses maande was sy enigste inkomste speenkalfverkope van die kruise en Simmentalers.
“In 2003, na vele gebed, het ons die idee gekry om maas te begin maak. Vier jaar later het die bedryf, deur die Heer se genade, geweldig uitgebrei. Die prys wat ons nou vir ons melk kry is dubbeld die prys van vars melk,” sê Kosie. “Om my kudde na Fleckvieh/Simmentaler oor te skakel en my melk te verwerk, was die regte besluit op die regte tyd.”
Tans is sy stalgemiddeld per koei 20 liter per dag vanaf weidings met kragvoer wat varieer van 400-600 gram per liter, afhangende van die gehalte van die weidings. Al sy melk word verwerk na maas en soos sy kudde groei, groei die vraag na sy produk.
Genetika
Bavarian Fleckvieh Genetics, die verspreiders van Flekvieh-semen in Suid-Afrika, is ’n Duitse organisasie wat bestaan uit sewe Fleckvieh-genootskappe en 10 000 gewone lede in Duitsland, Oostenryk en die Tjeggiese Republiek. “Die Flekvieh/Simmentaler-wêreldfederasie met 41 miljoen diere, is die tweede-grootste federasie in die wêreld naas die Holsteinfederasie.” sê Thys.
Daar is ’n moontlikheid dat Flekviehboere in die naby toekoms ’n geleentheid sal hê om meer geld per kilogram uit hulle Fleckvieh-kruisings te verdien en om ’n stabiele mark vir hulle produkte te bekom. Volgens Thys stel voerkrale toenemend in hierdie kruisings belang. “Afstande tussen die kusstroke en die voerkrale in die binneland, dra by tot hoë vervoerkoste. Indien koördinasie tussen boere met die regte doserings- en inentingsprogramme plaasvind, behoort boere beter pryse vir hulle Fleckvieh-kruise te kry wat reeds in groot aanvraag is by voerkrale.”
Swellendam byeenkoms
Dr Dirk Verwoerd van Pfizer Dieregesondheid het met die idee vorendag gekom om boere met Fleckvieh-kruise en voerkrale by mekaar uit te bring. In hierdie verband word daar op 1 Augustus om 10:00 ’n vergadering op Swellendam gehou waar hierdie konsep aan boere verduidelik sal word.
Voorlopige sprekers sluit in Dr Dirk Verwoerd (Pfizer Dieregesondheid), verteenwoordigers van voerkrale, Peter Massmann (Simmentaler-rasdirekteur), Dr Carel Muller van Elsenburg, en prof Frikkie Neser van die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Vir meer inligting, skakel Thys Swart by 082 498 8788.