Welcome to The Dairy Mail
Wen met windkrag - August 2010
deur Liza Burger
Alternatiewe energie kan net sowel outydse energie heet. Die wind wat eeue lank al windmeulens in Nederland draai en die windpompe van die Vrystaatse vlaktes tot in Amerika laat tjier-tjier, waai steeds en word nou in die moderne era ‘herontdek’.
Van die enorme windturbines in die Noordsee tot die kleiner reuse wat buite Darling draai – windkrag is terug met ’n gejuig.
’n Paar haakplekke is daar natuurlik – die prys van hierdie turbines is relatief hoog en saam met instandhouding en die onbetroubaarheid van hierdie energiebron, is nie almal ewe gemaklik met die idee van windkrag as die antwoord op die gulsige wêreld se dors na energie nie.
Maar wat van jou eie plaas? Kan jy effektief belê in windkrag en gouer – eerder as later – munt slaan uit hierdie gratis bron van energie?
Hannes Cilliers van Bloekomlaan Boerdery, 30 km wes van Humansdorp, is ’n melkboer wat die kans aangegryp het om die ewige wind op sy plaas tot sy voordeel aan te wend. Hy het onlangs ’n tweede windturbine op sy plaas opgerig en die projek blyk reeds vrugte af te werp.
Die twee Kestrel Eveready-windturbines, onderskeidelik 1 kW en 3 kW sterk, is weliswaar nie die reusagtige kragopwekkers wat op windplase gesien word nie. Dit lyk eerder na nuwerwetse windpompe. Een van die groot verskille is dat die windkrag nie direk meganies aangewend word nie.
“Die windturbines wek krag op wat die Grundfos-pompe, wat met wisselstroom werk, van krag voorsien om water te pomp. Hierdie stelsel het nie ’n batterybank nie, dus loop die pomp stadiger as die wind sagter waai en ook andersom. Die turbines kan in stormsterk wind funksioneer en pomp dan water teen die maksimum kapasiteit,” verduidelik Hannes.
Sy plaas is tipies van die Oos-Kaapse melkweg, waar groot kuddes vanaf weidings melk produseer.
Die plaas het 30 werknemers en is ongeveer 1000ha groot met aangeplante weidings, waarvan 160 ha met opvangreënwater onder besproeiing is. Die melkkudde is sowat 1 000 koeie sterk en in sy melkstal staan ’n 80-punt-draaitafel vanwaar om en by 5 miljoen liter melk per jaar geproduseer word.
Om hierdie hoeveelheid melk te produseer, is natuurlik ook ’n hele paar miljoen liter water nodig.
“Ons benodig daagliks 150 000 liter water vir mens en dier. In die verlede het ek Eskom-krag gebruik om water te pomp en dit het my sowat R4 000 per maand gekos,” sê Hannes.
“Met die ligging van die windturbines en boorgate bespaar ons verder as gevolg van gravitasiedruk om pomponkostes tot die minimum te beperk. Ons bespaar so te sê alle pomponkoste danksy windkrag om boorgatwater aan die plaas te voorsien. Wanneer nodig, kan ek nou ook bepaal wanneer elektriese pompe aangeskakel moet word, soos oor naweke wanneer krag goedkoper is. Eskom word hierdeur bevoordeel omdat ons minder krag gebruik in piektye.” Volgens Hannes is die plan om uiteindelik so onafhanklik moontlik van Eskom te wees deur die gebruik van son- en windkrag.
Die Kestrel Eveready-windturbines wat Hannes gekies het om hierdie plan te bewaarheid is in Port Elizabeth vervaardig. Onderdele, diens en advies is dus nooit ver nie en Hannes is veral beïndruk met die gehaltediens van sy verskaffer.
“Die kapitale uitleg was R200 000 vir beide windturbines en word oor 60 maande afbetaal, terwyl die verskaffer die turbines onderhou.
“Die maandelikse paaiemente is tans gelykstaande aan dit wat ek aan Eskom sou betaal, maar wanneer dit afbetaal is, sal ons verniet water pomp. Die enigste onkoste sal onderhoud wees. Gelukkig is die geraamde leeftyd van turbines sowat 20 jaar. Die windturbines hou ook baie meer voordele in as windpompe, is makliker om in stand te hou en lewer ook meer water in dieselfde tyd,” sê Hannes.
Hy is egter positief oor toekomstige voordele. “Sodra Eskom en die regering besluit aan wie en hoe hulle lisensies gaan uitreik, sal ons hopelik alternatiewe krag aan Eskom se kragnetwerk kan verkoop. Wanneer dit gebeur, kan ons onmiddellik begin om ons alternatiewe kragbronne ten volle te benut.
“My plaas is reeds ’n bewys dat alternatiewe krag lonend en moontlik is. Ek wag in spanning om te hoor wat Eskom en die regering se besluit is.”
Windkrag is ongelukkig nie elke plaas se antwoord op goedkoper krag nie. Hannes raai aan dat ander boere wat windturbines oorweeg, eers ’n kundige moet konsulteer oor die ligging van die plaas, gemiddelde windspoed en of dit lonend sal wees om turbines op te rig.
Boere met vrae oor Hannes Cilliers se projek kan hom e-pos by hannesc@igen.co.za.