Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Bestuur van antibiotika
op die plaas (Deel 4) - August 2010

deur Dr Chris van Dijk

Wanneer antibiotika voorgeskryf word vir gebruik op ’n plaas, moet die produsent en sy werkers toesien dat die middel korrek gestoor en aangewend word. Die volgende voorstelle verseker dat antibiotika optimaal aangewend word.

• Stoor alle middels volgens wetlike vereistes: Alle middels moet gestoor word sodat dit nie in aanraking kom met melk of melktoerusting nie. ’n Kassie/kamer wat kan sluit sal ook voorkom dat antibiotika verkeerdelik aangewend word. Middels vir lakterende koeie en nie-lakterende diere moet apart gestoor word.
• Dien alle antibiotika streng volgens voorskrif toe: Alle middels moet streng volgens voorskrif toegedien word. Daar moet gelet word op die frekwensie, roete van toediening (binnespiers of onderhuids) en daar moet streng by onttrekkingsperiodes gehou word.
• Merk alle behandelde diere duidelik: Veral in groot melkerye waar baie mense werk, moet ’n duidelike stelsel in plek wees om behandelde diere te identifiseer. Dit word voorgestel dat ’n witbord waarop alle behandelde diere aangeteken word opsigtelik geplaas word.
• Lei mense op: Slegs persone wat opgelei is (verkieslik deur u kuddeveearts) behoort antibiotika toe te dien.
• Hou rekords: Rekords van alle diagnoses en behandelings moet streng gehou word en op ’n behandelingsvorm of op die rekenaar aangeteken word. Die rekords sal ook as ’n diagnostiese hulpmiddel oor tyd kan dien – die veearts is nie altyd op die plaas nie maar die rekords kan elke keer tydens die veearts se besoek bespreek word – tendense, veral met nuwe siektes wat begin kop uitsteek, kan baiekeer voortydig op hierdie manier geïdentifiseer word.
• Beperk antibiotika tot ’n minimum: Doen gereeld ’n voorraad­opname van u medisynekas en gooi alle antibiotika wat verval het, onmiddellik weg. Die persone wat die middels toedien moet gereeld opgelei (of heropgelei) word in die korrekte gebruik van middels en daar moet gereeld in oorleg met die veearts bespre­kings rondom die korrekte middels vir u plaas ­gevoer word.
• Gebruik middels volgens ’n standaard­protokol: Werk saam met die veearts en stel ’n behandelingsprotokol in skrif op vir u plaas vir middels en ander ondersteunende behandelings vir elke toestand of siekte wat op u plaas mag voorkom.

As u hierdie prosedures streng volg sal u die beste respons op u behandeling kry en voortydig enige veranderinge in siektes of die doeltreffendheid van middels kan naspeur.

Lesers is welkom om die outeur regstreeks te kontak by 082 789 4499 of per e-pos by chris.vandijk@pfizer.com.

E-mail this article