Welcome to The Dairy Mail
Nuwe webwerf bied jou meer - August 2010
Die Melkprodusente-organisasie het onlangs sy nuwe, verbeterde webwerf, www.mpo.co.za, bekendgestel. Die nuwe webwerf sal ’n beter diens aan produsente en verbruikers landwyd kan bied. Philip Swart, die MPO-webwerfkoördineerder, sê van die sleutelaspekte wat in ag geneem is toe die webwerf ontwerp is, sluit in verbruikersvriendelikheid en eenvoud. Hy glo die webwerf voldoen aan hierdie vereistes.
Swart sê die webwerf fokus op die vyf kernfunksies van die MPO. Dit sluit in markbeskerming, inligting, kommunikasie, tegnologie-oordrag en die ledelessenaar in. Die webwerf bevat ’n kort geskiedenis van die MPO asook ’n kort opsomming van die rol en funksie van die organisasie. Verder bied dit ’n oorsig van die MPO se ontstaan en hoe dit omvorm het tot waar dit vandag is.
Die kernfunksies van die MPO is aan die regterkant van die bladsy. Elke funksie bevat ’n aantal subkategorieë met relevante inligting oor die spesifieke funksie. Elke kernfunksie bevat ’n kort samevatting en doelstelling met agtergrondinligting vir mense wat nie met die MPO vertroud is nie.
Markbeskerming
Markbeskerming speel ’n groot rol in die MPO se mandaat om onwettige en substandaardinvoere te beheer. Hierdie funksie word behartig deur Barbara Bieldt, bestuurder van markbeskermings by die MPO. Dit word in twee kategorieë verdeel: Agri Inspec en die tegniese skakelingskomitee.
Besoekers kry hier terugvoering vanaf die MPO en Agri Inspec oor onwettige invoere, invoerstatistieke en nuus oor invoerbeheer. Die skakel na die tegniese skakelkomitee bevat inligting oor die komitee, wat begin is deur Barbara Bieldt om probleme in die suiwelmarksektor uit te skakel. Die komitee bestaan uit beamptes van die MPO, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens asook die departemente van gesondheid en landbou. Die komitee vergader elke drie maande en alle terugvoering van hierdie vergaderings word dan ook op die webwerf geplaas.
Kommunikasie
Die tweede funksie van die MPO is kommunikasie. Hierdie funksie is besonder belangrik vir dit MPO. Dit hou melkprodusente op hoogte te hou van die jongste navorsing, nuutste tegnologie, plaaslike en internasionale tendense, nuus en gebeure wat ’n invloed op hul boerderye kan hê. Alle algemene nuus en persverklarings sowel as die MPO-nuusbrief wat aan melkprodusente landwyd gestuur word, word hier geberg. Op die galery is plaaslike boere en hul kuddes sowel as ander foto’s van MPO-vergaderings en roetevergaderings te sien.
Inligting
Die derde strategiese funksie is inligting. Die MPO glo dat die jongste inligting die melkprodusent in staat stel om ingeligte besluite in die vryemarkomgewing te neem en om kompeterend met ander rolspelers in die mark, soos melkkopers, te onderhandel. Die subkategorieë van hierdie funksie is Statistiek, Bedryfsinligting, Lacto Data en Ekonomiese aanwysers. Dr. Koos Coetzee, MPO-ekonoom, verskaf die relevante inligting vir elke kategorie.
Besoekers sal hier ook inligting kan bekom oor internasionale en plaaslike ekonomiese tendense. Pryse van produsente, verwerkers en die kleinhandel, asook suiwelprodukte, jaarvooruitskattings en internasionale mededinging van plaaslike produsente word bespreek.
Tegnologie
Die MPO se vierde funksie is tegnologie. Die doel van hierdie funksie is om die MPO se Instituut vir Suiweltegnologie (IDT) en die Sentrum vir Produsente-Ontwikkeling (CenDel) saam te snoer. Drs Jan du Preez en Nico Schutte staan onderskeidelik aan die hoof van hierdie organisasies. Die funksie lig produsente in oor datums vir opleidingsdae, boeredae, die gewilde Grootkuddekonferensie, die All Africa suiwelskool en ekspo, asook die IDF Wêreldsuiwelberaad.
Daarbenewens kan produsente meer uitvind omtrent AgriBEE, plaaswerkeropleiding, tegnologie-oordrag, en mentorskappe. Hierdie sektor bevat ook sy eie galery waar produsente kan sien of hulle tydens ’n opleidingsdag afgeneem is.
Ledelessenaar
Die vyfde kernfunksie van die MPO is die sogenaamde ledelessenaar. Met hierdie funksie kan produsente relevante inligting bekom oor hul streke. Hierdie inligting sluit in nuus, belangrike datums, terugvoering van streeksvergaderings en aankondigings deur die voorsitters van die verskillende streke.
Hierdie kategorieë word ondersteun deur skakels wat na ander webwerwe soos The Dairy Mail, SARS, ITAC en ander organisasies gaan. ’n Belangrike toevoeging tot die webwerf is die kalender wat belangrike MPO datums en opleidingsdae bevat.
Volgens Swart word die webwerf gereeld bygewerk en verbeter om aan produsente die beste MPO-diens moontlik te bied. Hy sê die webwerf vorm ’n belangrike skakel in die MPO om produsente ingelig te hou oor suiwelsake, plaaslik en internasionaal.
Lede wat met Philip wil kontak maak kan hom e-pos by philip@mpo.co.za.