Welcome to The Dairy Mail
Argentyne bewerk minder,
kry meer - August 2010
deur Liza Burger
As dit by die implementering van minimum bewerkingsmetodes kom, het Argentinië ’n besonder goeie rekord wat sy status as landbouland nog verder verbeter. Die vele ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Argentinië maak dit beslis die moeite werd om ’n nadere blik te werp op die Argentynse manier van doen.
Sedert die jare 70 het baie boere in hierdie Suid-Amerikaanse land begin om geenbewerking op hul plase toe te pas. Tans is 27 miljoen hektaar, oftewel 81% van hul plaasgrond, toegespits op bewaringsbewerking.
By vanjaar se Nampo-oesdag op Bothaville is Argentinië se sukses met geenbewerking aan die media bekendgestel. Roberto Peiretti, ’n landbou-ingenieur wat dien op die raad van die Argentynse Geenbewerkings-boerevereniging (AAPRESID), het die bekendstelling waargeneem.
“Ons het in die afgelope 23 jaar daarin geslaag om ’n ekwivalent van 100 mm per hektaar bewerkbare grond te herwin danksy geenbewerking,” sê Roberto.
Die doeltreffendheid waarmee geenbewerking daarin slaag om grondvog te verbeter, is een van die groot redes waarom die Argentynse boer so gaande is oor hierdie bewerkingsmetode.
Daar is natuurlik talle ander voordele waarby hierdie land se boere baat. Gronderosie – ’n wesentlike probleem in die meeste Suid-Amerikaanse lande – is met 90% verminder op landbougrond waar minimum bewerking toegepas word.
“Danksy geenbewerking is die gebruik van masjinerie drasties gesny. Op hierdie plase is die brandstofverbruik met 40% per hektaar verminder en trekkers word nou net ’n derde van die tyd gebruik in vergelyking met tradisionele bewerkingsmetodes,” sê Roberto.
Hierdie verminderde gebruik van implemente en trekkers het die ooglopende voordeel dat toerusting langer hou, minder besoedeling veroorsaak en minder tyd van werkers in beslag neem.
AAPRESID en die landboumaatskappy, Monsanto, is tans saam met Agricultura Certificada (Gesertifiseerde Landbou) in ’n vennootskap om bewaringsbewerking in Argentinië selfs nog verder te vestig. AAPRESID gebruik Agricultura Certificada se gehaltebestuurstelsel om hulle te help om hulle doel te bereik.
Die bestuurstelsel is ook daarop gerig om bewaringsbewerkingboere met besigheidbestuur te help en om die voordele van grondbestuur, wisselbou, geïntegreerde insek- en onkruidbeheer, die gebruik van chemiese middels, strategiese bemesting en toepaslike veeboerdery uit te wys.
Die samewerkingsooreenkoms is ook gemik op sinvolle gebruik van geneties gemodifiseerde (GM) saad en pesbestrydingstegnologie. Die langtermynfokus is op volhoubare boerdery en om Argentinië as ’n wêreldmag in landbouproduksie te vestig.
Argentinië in ’n neutedop
Argentinië is vandag reeds een van die wêreld se voorste landboulande. Die landbousektor dra 8,5% by tot die bruto binnelandse produk en produkte wat verbou word sluit hoofsaaklik sonneblomsaad, suurlemoene, sojabone, druiwe, mielies, tabak, grondbone, tee, koring en vee in.
Laasgenoemde ondersteun Argentinië se sterk vleis- en melkbedryf. Bewerkbare grond beslaan 9% van die land se oppervlakte. Van alle produkte wat Argentinië uitvoer, maak landbouprodukte (vars en verwerk) 54% van totale uitvoere op.
Vanjaar se geskatte melkproduksie in daardie land is 10,3 miljoen ton. Melkverbruik blyk stabiel te wees en hul uitvoerkapasiteit neem jaarliks effens toe. Die surplusproduksie, volgens die mees onlangse syfers van die International Farm Comparison Network, was verlede jaar net meer as 1 miljoen ton. Melkplase in Argentinië is oor die algemeen soortgelyk in grootte, maar die gemiddelde produksiekoste is effens laer as dié in Suid-Afrika. Produsentepryse daar is ook laer as ons plaaslike melkprys. Beesvleis is die belangrikste produk uit die veebedryf en sowat 3,2 miljoen ton Argentynse beesvleis (en nog ’n halwe ton eetbare afval) word per jaar uitgevoer.
Een van die voordele van Argentinië se geenbewerkingsmetodes is dat dit inskakel by sy beeld as bron van organiese produkte. Organiese gewasse en landbouprodukte soos grane, vrugte, groente, oliesade, kruie, suiker, sappe, wyn en toenemende hoeveelhede dierlike produkte soos vleis en melk, word op groot skaal verbou. Die resultaat is dat Argentinië die wêreld se derde grootste produsent van organiese landbouprodukte is, waarvan 90% uitgevoer word na hoofsaaklik die EU en die VSA. Die suksesvolle gebruik van GM-gewasse saam met geenbewerking stel die land ook in staat om 20% van die globale GM-soja oes te lewer.
Plaaslike geenbewerking
In Suid-Afrika het geenbewerking gemengde sukses behaal in die verlede, maar meer onlangs is dié metode met meer geesdrif en kennis laat herleef.
Mielieboere wat geenbewerking toegepas het, het hulle byvoorbeeld in die jare 80 vasgeloop teen ’n Diplodia-kopvrotepidemie. Die feit dat geen gewasrotasiestelsels in plek was nie en pesbeheer nog nie die GM-stadium bereik het nie, het verskeie boere groot skade laat ly.
Uit hierdie foute is geleer maar boere was steeds sku om die skaar en ploeg ver weg te bêre.
Die ekonomiese realiteit het kort daarna egter die kollig weer op geenbewerking laat skyn. Die destydse deregulering van die graanbedryf en die druk van hoë insetkoste het baie graanboere gedwing om alternatiewe boerderypraktyke te oorweeg. Nou, byna 20 jaar later, is vele boere oortuig van die relevansie en waarde van bewaringsbewerking en bly die belangstelling in die toepassing hiervan.
Omstandighede het ook verander ten gunste van geenbewerking. Dis in wese ’n ‘groener’ bewerkingsmetode en die nut daarvan is meer as net ’n gier. Die landbou se bydrae tot besoedeling en omgewingskade beteken dat boere eenvoudig meer omgewingsbewus móét wees.
Die meganiese sy van geenbewerking het ook in die tussentyd baie ontwikkel. Gemodifiseerde geenbewerkingplanters, gewasspuite, skermspuite en stropers beteken dat meer doeltreffende bewaringsbewerking moontlik is. Bewaringsbewerking kan ook met vrug op aangeplante weidings van weidingsgebaseerde melkplase toegepas word.
Kennis oor geenbewerking het natuurlik ook verbeter. Die vooruitgang van GM-gewasse en GM-tegnologie sluit uitstekend aan by die toepassing van bewaringsbewerking. Indien die regte onkruiddoder vir die onkruidspektrum volgens voorskrifte gebruik word, is voorplantbespuiting uiters doeltreffend, terwyl ’n skoffelbewerking nie net minder doeltreffend is nie, maar ook nuwe onkruidsade stimuleer om te ontkiem.
Wat is bewaringsbewerking?
Of jy nou praat van geenbewerking of minimum bewerking, dit maak saam met ander boerderymetodes soos direkte saai en verminderde bewerking deel uit van die begrip, bewaringsbewerking. Bewaringsbewerkingmetodes gebruik doeltreffende meganisasie teen ’n drasties verminderde skaal. Natuurlike oesreste word agtergelaat om die grond tydens die groeiseisoen te bedek.
Hierdie beskermende laag plantmateriaal verminder erosie, bevorder die voginhoud van grond, verminder afloop en herstel die natuurlike voorkoms van bruikbare organismes soos erdwurms. Die gebruik van minder implemente en minder bewerking beteken ook dat grondkompaksie afneem. Gespesialiseerde toerusting soos die ontwikkeling van middels soos glifosaat en vooruitgang van geengemodifiseerde gewasse het onkruidbeheer hervorm. Om meer uit te vind oor die geenbewerkingstendens in Suid-Afrika, gaan na www.notill.co.za.