Welcome to The Dairy Mail
Die wêreld wil weet - August 2010
deur Liza Burger
Die vraag na naspeurbaarheid is nog nie amptelik ’n gevestigde idee in Suid-Afrika nie, hoewel daar reeds talle privaat verwerkers en produsente van vleis en melk is wat die voordele van moniteringstelsels aanwend. Dis veral die skaapvleisbedryf – spesifiek in die Noord-Kaap – wat reeds goeie vordering met identifikasie en naspeurbaarheid maak.
Elders in die wêreld is daar reeds jare lank wetgewing wat die voedselwaardeketting van die meeste landbouprodukte aanmoedig, of selfs verplig, om die eindproduk terug te spoor na die plaas van herkoms.
Identifikasie en naspeurbaarheid onder lewende hawe word boonop deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid aanbeveel en steun die implementering van sodanige stelsels wêreldwyd.
Nieu-Seelandse aanslag
Die Nieu-Seelanders is tans in die proses om identifikasie en naspeurbaarheid van diere op te gradeer.
Die primêre doel van dié opgradering is om biosekuriteitbedreigings beter te bestuur en om Nieu-Seeland se enorme uitvoermark van landboukommoditeite te beskerm.
Reeds in 2006 is die nasionale diere-identifikasie-en-opsporingstelsel, oftewel NAIT, gestig. Die NAIT-stelsel maak dit moontlik om ’n dier se lewe letterlik van geboorte tot by die nadoodse vleisinspeksie te volg. Terwyl die stelsel aanvanklik vrywillige deelname van boere aanmoedig, word verpligtende wetgewing vanaf 2011 beoog. Nieu-Seeland voer meer as 90% van die melk uit wat hy produseer.
Die NAIT-stelsel sal Nieu-Seeland ook in staat stel om sy handelsvennote gerus te stel oor voedselveiligheid wanneer aansteeklike siektes onder diere aangeteken word. Die stelsel sal die besmette diere, moontlikheid van verspreiding en ‘skoon’ diere kan bevestig.
Monitor verskuiwing
Europa is tans ’n leier op die gebied van naspeurbaarheidstegnologie en praktiese monitering. Verskeie soorte oorplaatjies, RFID-senders en selfs bolussenders (’n spesiale elektroniese identifiseringsender wat gesluk word en in die dier se maag bly) word hiervoor ingespan.
Dit maak die verskuiwing van diere – selfs oor gebiedsgrense – minder van ’n risiko as vantevore.
In Nederland is dit byvoorbeeld aanvaarde praktyk om bulkalwers in lande soos Pole groot te maak vir die abattoir. Diere beweeg dus uit die land oor Duitsland na Pole en terug waar maatskappye soos Vion kalfsvleis verwerk. Dis ook algemeen om opvolgverskalwers op ander plase – plaaslik of elders in Europa – groot te maak voor hulle by Nederlandse melkplase inskakel.
Hier is die monitering van die verskuiwing van individuele diere besonder spesifiek. Die koei se gesondheidstatus en blootstelling aan moontlike aansteeklike siektes word deur ’n veearts bevestig en op die sentrale databasis se gedetailleerde kaart toepaslik verander. ’n Virtuele kwarantyn kan dus selfs ná die fisiese kwarantyn toegepas word met potensieel besmette diere wat spesiale merkers kry totdat die gevaar van siekteverspreiding verdwyn het.
Globale gebruike
In die Europese Unie is die gebruik van sekere veemedisynes en -behandelings so byna ’n vloekwoord en wil die verbruiker bevestiging hê dat sy voedsel antibiotika- en hormoonvry is. Naspeurbaarheid word hier dus regdeur die waardeketting baie hoog op prys gestel. Die monitering van siektes soos bek-en-klouseer onder diere en soönose soos Slenkdalkoors, tuberkulose en brusellose is uit die nasionale kudde se oogpunt ekonomies baie belangrik.
Dit was egter die voorkoms van malbeessiekte of BSE in Brittanje (sponsagtige ensefalopatie van beeste) wat finaal die belang van naspeurbaarheid vir die verbruiker onderstreep het.
Malbeessiekte, wat Creutzfeldt-Jakobsiekte by mense kan veroorsaak, het in hierdie tyd verbruikersvertroue in Engeland byna oornag laat tuimel. Boonop is ’n verbod op die invoer van Britse vleis na die Europese Unie ingestel.
As teenvoeter, het die regering in 1998 ’n gerekenariseerde beesopsporingstelsel ingestel om die verbruiker se vertroue in beesvleis te herstel.
Sedert 1998 word alle beeste (melk en vleis) binne 20 dae ná geboorte met ’n primêre en sekondêre oorplaatjie geïdentifiseer.
Diere moet binne sewe dae ná die oorplaatjie-identifikasie toegeken is geregistreer word, waarna ’n ‘paspoort’ aan die dier uitgereik word om die verskuiwing, slag of vrektes van diere te monitor.
In lande soos Engeland, Kanada, die VSA, Japan, Argentinië, Suid-Korea, Australië, Nieu-Seeland en die EU-lidlande is die waarde van ’n betroubare, elektroniese naspeurbaarheidstelsel reeds besef en is hierdie lande in verskillende stadiums van toepassing en wetgewing rakende naspeurbaarheid.
Die grootste motivering vir Kanada om sy eie identifisering en naspeurbaarheidstelsel te ontwikkel, was die impak van malbeessiekte op sy uitvoermark in die VSA. In 2003 is ’n enkele koei van Alberta positief getoets vir BSE tydens ’n roetine-opname. Alhoewel die dier nie in die menslike voedselketting aangewend is nie, is haar karkas verwerk. Die eindresultaat was dat sy potensieel 1 800 plase bereik het as ’n bestanddeel van veevoer.
Die VSA het in 2002 meer as 1,7 miljoen beeste (meestal vir slagdoeleindes) vanaf Kanada ingevoer en was veral krities oor die tyd wat dit die Kanadese geneem het om die oorsprong van die BSE besmetting vas te stel.
Om hul naspeurbaarheidsvermoëns op te knap het Kanada besluit om strepieskode-oorplaatjies en papierwerk te vervang met RFID-senders. Die verskuiwing van diere word gemonitor totdat die dier geslag of uitgevoer word.
Die ontwikkeling van die Australiese naspeurbaarheidstelsel (National Livestock Identification System of NLIS) is aangemoedig deur die Europese uitvoermark se potensiële vereistes. Vanaf 2006 is dit verpligtend om die verskuiwing van beeste in Australië aan te teken. Alle beeste wat van hulle plaas van oorsprong verskuif word, moet van ’n laefrekwensie-RFID-sender voorsien word.
In Nederland is die Identificatie en Registratie-stelsel in werking. ’n Gesentraliseerde rekenaardatabasis monitor die verskuiwing van elke bees individueel en word deur die ministerie van landbou, natuur en voedselgehalte beheer. Strepieskode-oorplaatjies word gebruik in hierdie naspeurbaarheidstelsel. Die stelsel hanteer gemiddeld 12 miljoen datatransaksies per jaar.
Japan het ’n verpligte naspeurbaarheidstelsel wat sedert 2003 in werking is. Individuele strepieskode-oorplaatjies en ’n baie spesifieke moniteringstelsel maak dit vir die Japanese verbruiker moontlik om die biefstuk wat hy in die winkel koop, terug te speur na die individuele dier met gebruik van ’n webgebaseerde databasis.
Suid-Korea het verlede jaar hul moniteringstelsel verpligtend gemaak en wetgewing hieroor bestaan reeds sedert 2004. Die boer, verwerker en regering werk saam om hierdie stelsel te laat klop. Die nuwe wetgewing bepaal dat vee sonder strepieskode-oorplaatjies nie geslag mag word nie. RFID-senders word ook al hoe meer in hierdie land gebruik.
Brasilië het reeds miljoene dollar verloor in potensiële uitvoere omdat die EU hul naspeurbaarheidstelsel onbetroubaar ag.
Dit kom ten spyte van ’n monitering-en-identifiseringsprogram wat in 2002 bekend gestel is. Die program het veral gefokus op diere wat vir die uitvoermark bestem was, maar ’n oudit het soveel foute in die stelsel uitgewys dat die Europese direkteur-generaal vir gesondheid en verbruikersake dit as onbetroubaar geklassifiseer het en beperkings op die invoer van Brasiliaanse vleis geplaas het.