Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Die vraag na naspeurbaarheid - August 2010

deur Liza Burger

Die hedendaagse landboubedryf vereis ’n klomp nuwe verantwoordelikhede van die boer. Hy moet elke dier se verskuiwing, prestasie en produkte kan naspoor om mens en dier teen siektes te beskerm.

Bestaande naspeurbaarheidsprotokolle is reeds beskikbaar en hou talle voordele in vir die boer en sy kudde wat biosekuriteit betref.

Soos The Dairy Mail-rubriekskrywer, dr Chris van Dijk, skryf: “Biosekuriteit beteken al die bestuurspraktyke is van toepassing op ’n plaas om die gesondheid van jou huidige kudde asook aangekoopte diere te verseker ... daardie topkoei wat jy onlangs op ’n veiling gekoop het, mag dalk die spreekwoordelike Trojaanse koei wees. Jy het baie betaal vir die nuwe koei maar ook ’n hele paar nuwe siektes verniet saamgekry.”

Met volledige naspeurbaarheidsinligting kan ­rekord van diere se gesondheidstatus en inentings­programme net soveel makliker en akkuraat gehou word.

Om die sogenaamde ‘farm-to-fork’-roete weer te gee is ook al hoe meer ’n vereiste van die verbruiker wat wil weet waar sy voedsel vandaan kom. Deur goeie naspeurbaarheidsriglyne te volg, het dus sy kommersiële voordele, veral onder die hoër inkomstegroepe.

Hester Vermeulen, ’n navorser verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), sê Suid-Afrikaanse verbruikers in die hoër inkomstegroepe is al hoe meer gesteld op die bevestiging van voedselveiligheid deur naspeurbaarheid.

Moderne identifikasiemetodes in melkkuddes – net soos met vleiskuddes – beteken dat die koei van haar geboorte tot by die abattoir gemonitor kan word.

Haar groeikurwe as kalf, laktasiesyfers, melkproduksie en -inhoud, vrugbaarheid, siektes en ­behandelings kan met naspeurbaarheidstegnologie in ’n volledige profiel vervat word.

Die gebruik van strepieskode-oorplaatjies is een manier om die handel en wandel van vee aan te teken. Daarbenewens is monitering op melkplase soveel te meer belangrik. Hierdie oorplaatjies is soortgelyk aan ’n paspoort – dit word een keer uitgereik met ’n unieke nommer vir elke dier en alle relevante data van die dier se lewe, behandeling en verskuiwing word onder hierdie nommer gestoor.

Hierdie moniteringstegnologie is niks nuuts vir die meeste moderne melkboere nie en word bloot uitgebrei in sy toepassing wanneer dit by naspeurbaarheid kom.

In melkstalle waar outomatiese lesings deur ’n radiosein aan ’n sentrale rekenaar gestuur word, sal die boer weet hoe nuttig RFID-senders (radiofrekwensie-identifikasie) kan wees. Die Milkfriend- en DeLaval Alpro-stelsels is voorbeelde hiervan.

Hierdie tegnologie moniteer die koei se inkom en uitgaan by die melkstal en alles wat daartussen verloop. Plaaslik wissel die gebruik van tegnologie op melkplase van net die ­basiese melkmasjien met handgeskrewe melkaan­tekeninge, tot ten volle geoutomatiseerde melkery- en moniteringstelsels.

Koeie op Twitter
In lande waar die gebruik van robotmelkers aanvaarde praktyk is, kan hierdie kommunikasie met die moniteringstelsel nou ook gebruik word om ’n stem aan jou koeie te gee.

’n Ekstreme voorbeeld hiervan is ’n groep van 20 koeie wat deur die Universiteit van Waterloo in Kanada gemonitor word. Die moderne kommunikasiemedium, Twitter, word hiervoor ingespan en aktiwiteite van koeie en hul produksie word deurentyd bygewerk.

Boodskappe oor RFID-senderprobleme, noem­enswaardige melkproduksie, tegniese pro­bleme met die outomatiese melkmasjiene, wanneer en hoeveel gevreet word en meetbare gesond­heidskwessies word gekommunikeer.

’n Tipiese boodskap lui: “Op Wo,14 Apr. ’10, 10:51, stap ek die robotstal binne. Binne 3:34 sek het die robotmelker 3,1 kg gemelk – Jerry_J_Lo”.

Biosekuriteit is die wagwoord
Naspeurbaarheidstegnologie kan met vrug as bestuurspraktyke aangewend word om siektes en die verspreiding daarvan in kuddes te verminder en selfs te voorkom. Minder siektes beteken minder onkoste. Vir die verwerker van diereprodukte en ook die eindverbruiker, dui die teenwoordigheid van ’n betroubare biosekuriteitsprogram op ’n produsent wat waarde heg aan die gesondheid van sy kudde en gehalte van sy produkte.

Om die nuutste tegnologie in te span, behels natuurlik kapitale uitleg, maar die belegging in jou kudde se gesondheid en daardeur die bevestiging van die gehalte van jou produk, hou talle langtermynvoordele in.

’n Suid-Afrikaanse maatskappy se belegging in unieke oorplaatjies en rekenaarsagteware is die eerste van sy soort wat deur middel van naspeurbaarheid die toepassing van biosekuriteit vergemaklik. Hierdie oorplaatjies in kombinasie met die GMP Basic-sagteware is ’n bestiering vir boere wat hul naspeurbaarheid op internasionale standaard wil bring.

Met hierdie stelsel kan diere geïdentifiseer word en hul rekords op beide die produsent se eie rekenaar en ’n sentrale internetdatabasis gestoor word vir verwysing.

Vergemaklik biosekuriteit
Die naspeurbaarheid van melkprodukte is effens minder spesifiek as byvoorbeeld vleis as eindproduk, maar die oorsprong kan steeds taamlik akkuraat aan die kleinhandelaar en verbruiker deurgegee word.

Onthou jy nog die melamien-skandaal? Was dit nie vir die naspeurbaarheid van die melkprodukte nie, sou die oorsprong van die melamien nooit na die spesifieke produsente en hul voerverskaffer teruggespoor kon word nie. Sonder die beskikbare rekords van die produsente, hul voermaatskappy en grondstofverskaffers, sou die raaisel van melamien in melkprodukte moeilik opgelos kon word.

In Suid-Afrika is die formele melkbedryf relatief op gelyke voet met ander dele van die moderne wêreld wat gehaltebeheer betref. Melkmonsters word by elke tenk op elke plaas met elke melktrekking getoets en plaaslike melkverwerkers is reeds gesteld op gehalte en voedselveiligheid. Daarbenewens is produknaspeurbaarheid by die meeste aanlegte gevestig.

Op produsentevlak word kuddegesondheid oor die algemeen goed gemonitor en die meeste melkkopers sien toe dat hul produsente die nodige sertifikate en verklarings het om veilige voedselproduksie te verseker.

Suiwelverwerkers soos Fair Cape en Clover en kleinhandelaars soos Woolworths, roem spesifiek op die gehalte en herkoms van hul produkte omdat hulle wéét waar hul melk vandaan kom.

Benewens die bestuursvoordeel wat dit die verwerker bring om makliker gehaltebeheer toe te pas, is naspeurbaarheid ’n toekomstige goudmyn met ’n wêreldverbruiker wat al hoe meer gesteld is op die betroubaarheid en agtergrond van die produkte wat gekoop word.

Kwarantyn in die kleine
Die toepassing van goeie biosekuriteitprotokolle, hetsy op plaasvlak, streeksgewys, provinsiaal, nasionaal en oor landsgrense heen, is slegs moontlik as diere gemoniteer word.

Die onlangse uitbreking van Slenkdalkoors is maar net nog ’n bewys van hoe kwesbaar die landbou is vir siektes wat maklik in epidemies kan ontaard. Indien naspeurbaarheid en biosekuriteit oral ewe sterk hand aan hand geloop het, sou die mees onlangse uitbreking van dié siekte waarskynlik baie vroeër onder beheer kon kom.

Dit sou ook die span by Onderstepoort ’n beter idee van die stand en toepassing van inentingprogramme by veekuddes kon gee. Daarmee saam sou die outomatiese aanmelding, spesifieke verspreiding en voorkoms van Slenkdalkoors dit vir Onderstepoort makliker maak om die waarskynlike aanvraag na entstof te voorspel.

Dieselfde geld vir die monitering, beheer en behandeling van die nasionale kudde wat betref siektes soos bek-en-klouseer, brusellose, tuberkulose, beesvirusdiarree, digitale dermatitis, leptospirose, Johne se siekte en aansteeklike mastitis (staphylococcus aureus en streptococcus agalactia).

Hierdie en talle ander aansteeklike siektes versprei die heel maklikste as siek diere (of draers van siektes) van een gebied na ’n ander verskuif word. Ongeag of diere geskou word, by ’n veiling of uit die hand verkoop word, die siekte beweeg saam.

Indien jy die status van jou eie en ook nuwe diere ken en goeie kwaratynmaatreëls op jou plaas toepas, kan die verspreiding van hierdie siektes grootliks beperk word.

E-mail this article