Welcome to The Dairy Mail

Login / Register (it's free)

You are not logged in.

Die regte toerusting vir die werk - August 2010

deur Gerrit Bezuidenhout

Die dae wat biosekuriteit op ’n plaas gesien word as iets wat uit ’n wetenskapfiksieboek kom, is lankal verby. Indien die melkprodusent die gehalte en hoeveelheid melk wil produseer wat kompeterend en winsgewend is, sal biosekuriteit nie net sy persoonlike wagwoord moet word nie, maar ook dié van sy werknemers, bestuurders en diegene wat die plaas wil besoek, soos voerkonsultante en veeartse.


The Dairy Mail het gaan kers opsteek by die kenners om uit te vind of dit nodig is om ’n biologies gesertifiseerde oorpak aan te trek elke keer wanneer jy naby die melkstal kom. Die antwoord, volgens Jas Wasserman van CenDel, is nee. Dit is egter van die uiterste belang om ’n paar reëls neer te lê, seker te maak jou toerusting is 100% reg en ’n bestuursplan vir biosekuriteit te hê.

Die toerusting bepaal die sekuriteit
Om jou plaas suksesvol te bestuur moet jy eers ’n plan hê, reg? Net so moet daar altyd eers ’n plan agter jou biosekuriteit wees.
Volgens dr Chris van Dijk van Pfizer Diere­gesondheid is biosekuriteit die som van al die bestuursmaatreëls wat die gesondheid van die kuddes beskerm en die kwaliteit van die melk en die vleis aan die eindverbruiker verseker.

“Die handhawing van optimale gesondheid in melkkuddes is van kritieke belang vir die beste produksie en winsgewendheid op die melkplaas. Die konsep van kuddegesondheid moet beskou word as ’n volledig geïntegreerde benadering ten opsigte van produksie en gesondheid. Praktyke op die plaas moet verseker dat die melk deur gesonde diere onder aanvaarbare toestande vir die diere in balans met die natuurlike hulpbronne geproduseer word,” sê Jas.

Die primêre doelstellings van kuddegesondheid kan soos volg saamgevat word:
• optimale kuddegesondheid, vrugbaarheid, groei en produksie
• optimale dierewelsyn is belangrik vir gesondheid
• voorsiening van veilige, hoëkwaliteitmelk en suiwelprodukte aan die verbruiker
• volhoubare en veilige gebruik van natuurlike hulpbronne.

Primêre koeigesondheidsorg
“Primêre voorkoming of voorkomende gesondheidsorg sluit al die aktiwiteite in wat daarop gerig is om risikofaktore wat ’n rol speel in die ontstaan van siektes uit te skakel, of sover as moontlik te beperk. Daar word dus proaktief opgetree om siektes te voorkom. Dit vorm die kern van kuddegesondheidsaktiwiteite,” sê Jas. Hy verduidelik dat die veearts die boer se vennoot hierin behoort te wees en doeltreffende kuddegesondheidsprogramme moet ontwerp en toepas.

Primêre gesondheidsorg en/of biosekuriteit kan in eksterne en interne maatreëls onderverdeel word. Eksterne maatreëls behels aksies om te voorkom dat ’n siekte in ’n kudde ingebring word. Interne maatreëls is al die bestuursaspekte wat in ’n kudde in plek moet wees om die verspreiding van siektes wat endemies in die melkkudde is, te voorkom of sover as moontlik te beperk in die geval van siektes waarmee ons moet saamleef.

Eksterne maatreëls
• Die doeltreffendste metode is om ’n geslote kudde te hê. Geen nuwe diere kom dus in die kudde nie.
• Koop slegs diere aan waarvan die gesondheidstatus bekend is (byvoorbeeld vry van TB, brusellose, leukose, BVD en mastitis). Identifikasie is belangrik vir naspeurbaarheid. Dring aan op sertifikate. Plaas aangekoopte diere liefs nog steeds vir ten minste twee weke onder kwarantyn.
• Kwarantynmaatreëls met aangekoopte diere waarvan die gesondheidstatus onbekend is, moet in plek wees. Doen die nodige toetse alvorens diere in die kudde toegelaat word.
• Voorkom kontak met diere van buurplase (buffersone en heinings). Gemeenskaplike weidings is ’n hoë risiko.
• Protokol ten opsigte van besoekers, voertuie, implemente.
• Waterkwaliteit.
• Kwaliteit van aangekoopte voere.
• Semenaankope.

Interne maatreëls
• Geslote kudde.
• Beperk die effek van risikofaktore wat vatbaarheid van diere vir siektes sal verhoog. Dit omsluit alle aspekte wat verband hou met behuising, voeding, bestuur en sanitasie. Indien kalwers byvoorbeeld onder swak higiëniese toestande grootgemaak word, verhoog dit die risiko van diarree.
• Beperk die voorkoms van siektes deur identifikasie en uitslag van draer diere (mastitis, BVD, leukose, TB, brusella). Sekere siektes soos leptospirose kan beheer word deur antibiotiese behandelings.
• Immunisering.
• Genetika.

E-mail this article