Welcome to The Dairy Mail
Metaboliese siektes (Deel 2)
Melkkoors - August 2010
Metaboliese siektes is ’n sindroom wat in wese veroorsaak word deur ’n beduidende wanbalans tussen die voedingstowwe deur die dieet ingeneem en die uitset in produksie. Een van die belangrikste metaboliese siektes is ’n wanbalans tussen die inname en benutting van kalsium, naamlik melkkoors (hipokalsemie).
Ons assosieer melkkoors dikwels met ’n koei wat lê, nie kan opstaan nie en spiersametrekkings het. Ons gee bietjie (of baie) kalsium en sy staan op (nie altyd nie, maar meestal). Verstaan ons werklik wat hierdie dramatiese val in bloedkalsiumvlakke kort voor kalwing veroorsaak? Weet ons hoe dit verhoed kan word?
Melkkoors kan by enige melkkoei en in enige stadium van haar siklus voorkom, maar is meer algemeen in ’n derde of vierde laktasie van ’n hoë produserende koei gedurende die eerste paar dae ná kalwing. Wanneer ’n koei melkkoors gehad het, is die kans 1 uit 2 dat sy dit weer gaan kry tydens die volgende laktasie. Daar word aangeneem dat die vinnige val van bloedkalsiumvlakke veroorsaak word deurdat sy nie vinnig genoeg van die kalsiumreserwes in haar skelet kan trek en vinnig genoeg kalsium uit haar maagdermkanaal kan absorbeer nie.
Kalsium is nodig vir spiertonus en spiersametrekking, speel ’n belangrike rol in die werking van verskeie hormone (sub-kliniese hipokalsemie) en bevorder ook die elektriese aktiwiteit van senuwees en spiere. Gedurende hierdie stadium van haar reproduksiesiklus gebruik ’n koei die meeste van haar kalsium vir melk, beengroei van die fetus en kolostrum.
Die onvermoë om kalsium van die skelet en maagdermkanaal te verkry, kan toegeskryf word aan verskeie redes:
• Onder normale omstandighede, word die kalsiumbalans gedeeltelik in stand gehou deur ’n hormoon wat in ’n area van die brein vrygestel word. Hierdie hormoon bind met reseptore in been en stimuleer die been om kalsium vry te stel. Indien die liggaam in ’n effens alkaliese toestand (metaboliese alkalose) is, reageer die been nie op die stimulerende pogings van die PTH (’n hormoon) nie. Normaalweg sal ’n effense alkaliese toestand ongemerk verbygaan maar by tye van massiewe kalsiumverliese, speel dit ’n deurslaggewende rol.
• Wanneer die rumen relatief alkalies is (rumenalkalose), word kalsiumopname grootliks beperk.
• Die derde belangrike faktor wat kalsiumopname beperk, is ’n onderbreking in die werking van die spysverteringkanaal. Verminderde voerinname tydens kalwing, skielike dieetverandering, hoë estrogeenvlakke tydens kalwing en ’n relatiewe alkaliese toestand dra alles by tot stase van die spysverteringskanaal, selfs al is dit kort en tydelik.
• Die kalsiuminname gedurende die droë periode beïnvloed die voorkoms van melkkoors. As die koei se inname van kalsium haar liggaam se daaglikse kalsiumbehoeftes bevredig of selfs oorskry, word die liggaam se vermoë om kalsium uit been of die spysverteringskanaal te onttrek, onderdruk omdat daar nie ’n behoefte bestaan nie. Die reseptore vir die hormoon, PTH, is te min of gebrekkig, ook omdat hulle nie gebruik is nie. Ons moet dus die koei se liggaam so gou moontlik leer om haar eie reserwes te gebruik. Hoe ons te werk gaan, word later bespreek.
• Ander faktore wat in ’n mindere mate ’n rol speel by die verhoogde voorkoms van melkkoors, is hoë produksievlakke, ras (Jersey en Guernsey) ouderdom (ouer, meerling-koeie) en lae bloedmagnesiumvlakke (hipomagnesemie).
Hoe kan ons melkkoors voorkom?
Die sleutel tot die behandeling van melkkoors (behalwe vir binneaarse kalsium) is voorkoming en die sleutel tot die voorkoming van melkkoors, is die kos wat die koei drie tot vier weke voor kalwing ontvang.
Soos reeds genoem, kan die liggaam nie genoegsaam kalsium onttrek wanneer dit in ’n alkaliese staat is nie. Om dié rede is die plan om die liggaam te stimuleer om gewoond te word daaraan om kalsium te onttrek uit die reserwes en effektief te absorbeer vanuit die maagdermkanaal. Ons bereik dit deur die liggaam in ’n effense suurstaat te plaas (effense metaboliese asidose) en deur ’n hoë kalsiumdieet drie tot vier weke voor kalwing te vermy. Dit word gedoen deur diëte (soos lusern, ander peulgewasse, hoenderafval en kikoejoe wat met mis bemes is) wat hoog is in ketone soos kalium en natrium te vermy en deur swael- en chloriede-aanvullings te gee.
Die verskil tussen die hoeveelheid ketone en anione bepaal die suur of alkaliese inhoud (pH) van die dieet. Dit word ook aanbeveel om die oorgangsdieet met anioniese soute aan te vul. Dit moet egter noukeurig gedoen word, aangesien te veel soute klaarblyklik baie sleg smaak en inname negatief sal beïnvloed en ons wil ook nie die liggaam te suur maak nie.
’n Praktiese, dog moeilik uitvoerbare manier om te bepaal of ons op die regte pad is, is om urien-pH-strokies te gebruik om die suurgehalte van ’n koei se uriene te meet. (Dis nie nodig om dit by al die koeie te doen nie.) Dit is ideaal indien die pH onder 6,8, maar nie laer as 6 is nie.
Moenie wag nie
Onthou dit is nie nodig om te wag tot die koeie met meerlinge bly lê weens melkkoors voordat die kalsiumstatus van die kudde ondersoek word nie. Dit is bewys dat sub-kliniese hipokalsemie (te lae kalsiumvlakke) faktore soos voedselinname, terugkeer na normale siklus, eierstoksiste, nageboorte wat vassit, kalwingsprobleme, verplaaste melkpens en melkproduksie (onlangse bevindings dui daarop dat hipokalsemie maklik 1 tot 2 kg melk per koei per dag kan kos) beïnvloed.
Daar is nog baie meer om oor hipokalsemie te sê as wat hier beskryf is. Indien u meer inligting verlang, skakel gerus met u plaaslike veearts.
Verwysings: Rautenbach GH, 2002, Produksiesiektes, Fakulteit Veeartsenykunde.
U kan ook met dr Barry Coates skakel by 011 929 2035 of stuur e-pos aan barry.coates@novartis.com